Gedagte vir die dag: Kennis en insig

woud_pad_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ook dit is iets wat van die Here die Almagtige af kom; kennis wat van Hom kom, is wonderbaar en laat alles voorspoedig verloop. (Jesaja 28:29)

Jesaja het pas die straf van die Here oor Israel afgekondig: Daar is groot vloede op pad en die volk moet hulle gereed maak vir dood en verwoesting. Ook die priesters en profete wat hulle skuldig gemaak het aan dronk­partytjies en wat Jesaja uitlag, sal dit nie vryspring nie, maar struikel en vernietig word. Hulle reken mos hulle is lank genoeg in die bediening om enige boodskap beter as die profeet Jesaja uit te lê. Die verskil is dat die insig wat hy het van die Here kom en nie verdraai word nie. As die Here een­voudige boere kan leer wat, wanneer en waar om te ploeg en te saai, sê Jesa­ja, sal Hy hom ook leer om te profeteer (lees Jesaja 28:23–28).

Ons kry ons kennis van God. Ons kan dink ons is slim, ons kan goeie stu­dente wees, briljante navorsers, geniale denkers. Maar sonder God sal ons struikel en ons kennis sal ons vernietig.

Laat die Heilige Gees toe om jou te help om jou Bybel te lees en reg te in­terpreteer. Jy sal verstom staan oor wat jy ontdek, en dit sonder enige teolo­giese agtergrond. Kennis en insig kom direk van Hom af, nie van verloopte akademici wat die Skrif sogenaamd ‘nuut’ interpreteer nie. God ontsluit sy Woord vir sy kinders wat eerbiedig en gehoorsaam wil luister wat Hy sê. Hy inspireer almal wat op soek is na die waarheid.

Here, ek bid dat ek my Bybel in alle eenvoud en geloof sal lees en verstaan en my nie laat mislei deur ontdekkings en uitsprake wat nie met u bedoeling strook nie. U het tog self gesê dat ons geen jota of titel van u Wet mag verander nie. Hou ook ons Bybelvertalers op koers, Here, wees U self hul inspirasie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.