Gedagte vir die dag: Kentekens

nagmaal_stiltetyd_samuelucc-org.jpg

Foto: samuelucc.org

Lees: 1 Korintiërs 5:6-8

Ons paaslam is immers geslag: dit is Christus. Laat ons dan feesvier … met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid (1 Korintiërs 5:7-8)

Ook die gekruisigde en opgestane Jesus Christus word deur die jong kerk met maklik herkenbare beeldspraak beskryf. Vir die destydse Jode was die paaslam ’n bekende en geliefde beeld. Dit was immers dié simbool, saam met die ongesuurde brood, van die bevryding uit Egipte. Die bevrydes en hul nageslag sou die Paasfees jaarliks met oorgawe vier.

Toe kom Jesus. Hy word geslag en bring só die bevryding uit die slawehuis van sonde. In die vroeë kerk, en tot vandag toe, word die fees van die Lam-sonder-gebrek gevier – met die nodige respek, met brood en wyn as tekens van ’n gebreekte liggaam en uitgestorte bloed. Maar dit bly ’n fees wat ook gevier word met vreugdevure wat net deur fenomenale verlossing aangesteek word.

Hier neem Paulus die ou beeldspraak ’n treetjie verder wanneer hy die Christene in Korinte aansê om van die “ou suurdeeg” (v. 7) ontslae te raak en die fees met ’n nuwe uitkyk te vier. Hy sê: Die geslagte Paaslam is ’n heerlike feit, en die nuwe, ongesuurde deeg ook. Vier dus die fees met ’n mentaliteit en die optrede wat daarby pas!

Wat Paulus betref, is die kerk se feesvreugde op ten minste dié waardes gegrond: reinheid en waarheid. Dit bly vername kentekens van Jesus Christus se kerk. Dit is ’n liggaam wat vry is van die besmetting van liefdeloosheid. Dit verkondig die prinsipiële onaanvaarbaarheid van leuens en leef dit so uit. Só sê Paulus …

O Lam van God wat die sonde wegneem, was my skoon! En reinig gereeld die kerk waar ek tuisgekom het.

Bron:
Uit die Beek 2018 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.