Kersfees sonder beheer

Foto: Marianne Styan

Hierdie Kersfees gaan verseker anders wees… Op Kersdag gaan ek 36 weke swanger wees en ons het ʼn 20 maande oue seuntjie wat glo hy weet reeds alles op sy jonge ouderdom.

Ja ek weet, dit was ons eie besluit om hulle so naby aan mekaar te hê. In daardie stadium het dit gelyk soos ʼn goeie idee … Kry al die min slaap en doeke so gou moontlik uit die pad, het ons gedink. In elk geval, dit is nou wat dit is en ons moet daarmee saamleef.

Daarom kan ons ook nie weghardloop vir die massas wat die Kaap toepak dié jaar nie, want verder as ʼn halfuur se ry van die hospitaal kan ek nie gaan nie.

Ons wonderlike families het gelukkig besluit hulle is bereid om saam met ons die massas te kom trotseer. Dat ons net ʼn paar meter van die see af bly, het die uitnodiging vir hulle baie meer aanloklik gemaak, vermoed ek. Maak nie saak wat die rede is nie, ons is nog steeds dankbaar.

Voor ek kinders gehad het, was ek een van daardie mense wat baie moeite gedoen het rondom Kerstyd. Dis nog steeds vir my ʼn baie spesiale tyd van die jaar. Ek glo nog steeds dat mens moet fokus op dit wat dit werklik is.

Ons familie glo nie dit was noodwendig Christus se werklike geboortedag nie maar dis lekker om wel een dag ʼn jaar te hê wat ons dit spesifiek kan vier deur vir mekaar, en mense om ons, die liefde wat Hy vir ons bewys het, opnuut uit te deel. Dis lekker om moeite vir mekaar te doen. Om rustig te word saam met mekaar en net weer die vrede te kry waarvoor die Vredevors aarde toe gekom het. Sodat ons kan herlaai vir wat ook al die nuwe jaar vir ons inhou. Om moeite te doen met spesiale geskenkies, kaartjies, tafeldek, Kersversierings en na Kersliedjies te luister.

Maar prioriteite het effens verskuif…

Daar is nie meer baie tyd vir self Kerskaartjies maak, spesiale Kersgeskenke uitsoek, boeke lê en lees of selfs net ʼn behoorlike mooi versierde Kersboom opsit nie.

Ek wens glad nie dit wat ek deesdae het, weg vir enige iets in die wêreld nie. Ek moes wel net vrede maak dat dinge vir ʼn rukkie gaan anders wees as wat dit was. Dalk kom dit nooit weer terug na wat dit was nie… tyd sal leer. Dis oukei.

Verlede jaar was alreeds anders. Maar in hind sight kan ek nou met alle eerlikheid sê dat ʼn agt maande oue kind verseker makliker is om mee Kersfees-vrede te ervaar as ʼn amper-tweejarige en ʼn swanger maag…

En as gevolg van bietjie komplikasies met die swangerskap het ons boonop die konstante bekommernis dat ons dalk volgende jaar ʼn Kersfees-verjaarsdag ook gaan hê, indien klein Pepertjie in my maag, besluit om 2017 nog sy geboortejaar te maak… Ons bid eintlik meestal net vir ʼn 2018 geboorte, op dié punt. Daar is ook nog nie veel van ʼn babakamer nie… dit is die Kersvakansie-projek.

Daarom weet ek hierdie jaar gaan heel moontlik ʼn Kersfees wees sonder enige beheer, maar dis wanneer ek totaal begin oorweldig voel en tranerig raak daaroor, dat ek besef dat daar amper 2000 jaar gelede ook ʼn gesin was wat geen beheer gehad het oor hulle “Kerstyd” nie. Hulle het nie eens tyd gehad om ʼn Kersete om ʼn volgedekte, versierde tafel langs ʼn mooi Kersboom te geniet nie. Hulle het nie eens die luukse gehad van ʼn mooi kamer in ʼn herberg nie.

Die hoog swanger vrou moes geboorte gee in ʼn stal. En haar Seuntjie moes ʼn lêplek kry in ʼn krip tussen stokkerige hooi, met die reuk van koeie om hulle. En tog was daar vrede, dalk geen beheer, maar wel vrede…

Want vir ʼn paar minute was daar êrens in die veld daar naby, ʼn engelekoor wat vir eenvoudige skaapwagters gesing het. Was daar die mooiste ster wat vir wyse manne die pad na die stal aangedui het. Almal het ʼn Seuntjie kom aanbid wat gebore is om vrede in ‘n wêreld vol chaos te bring.

En ewe skielik is dit oukei om nie meer beheer te hê in die Kerstyd nie, want daar is vrede…

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Danielle van Wijngaard ·

Ek sien jou hart. Ek gee môre geboorte aan ons 2de en boeta is nou 22maande. Alles is deurmekaar en die kersboom sien nie die lig hierdie jaar nie. Maar dankie tog vir Jesus-vrede wat alle verstand te bowe gaan. Want in ons deurmekaar land en wêreld is Hy ons enigste anker en rus.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.