Kerstyd in Colombia – nie altyd ’n vreugdevolle ervaring

Geopende Deure en sy vennote help om kindersentrums in Colombia te open waar kinders uit die straat en weg van die dwelmbendes se kloue gehou word. (Foto: Geopende Deure.)

Kersfees word in die Christelike kultuur tradisioneel gekenmerk deur gesellige samesyn, familietyd, geskenke en die viering van Jesus se geboorte. In Suid-Afrika is dit gewoonlik ʼn hoogtepunt op die kalender en ʼn vreugdevolle tyd waarna almal uitsien, maar ongelukkig skep Kersfees soms ʼn donker prentjie vir vervolgde Christene in ander wêrelddele.

Christene wat vervolg word omdat hulle die Here dien, ervaar Kersfees dikwels as ʼn tyd van verskerpte vervolging, alleenheid en verwerping in hul gemeenskappe. Hulle kan dikwels nie Kersdag openlik saam met hul families vier nie uit vrees vir meer aandag en vervolging.

Volgens Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, is een so ʼn spesifieke land waar die vervolgde kerk swaarkry Colombia in Suid-Amerika. Hoewel die land ʼn Christen-meerderheid het, is daar gewelddadige dwelmbendes en rebelle wat ʼn skrikbewind voer met hul wettelose optrede.

“Die misdadigers werf kwesbare jong kinders om hul vuilwerk te doen. Hulle is uiters vyandig tenoor Christene en sal enigiets doen om hul aktiwiteite te verhoed omdat dit mense van hul verslawing bevry en jongmense keer om by bendes ingetrek te word.”

Gouws het bygevoeg dat daar ʼn gebruik onder misdaadgroepe is om die kerk op te soek vir onwettige geldwassery.

“Indien pastore of ander kerkleiers nie saamspeel nie, aarsel die bendes nie om geweld te gebruik nie.”

Pastoor Andrés* het as kerkleier eerstehandse kennis van hierdie gewelddadige groepe en hul werkswyse. Hy is in 2017 ontvoer en vir etlike ure geslaan omdat hy geweier het om geld van ʼn onwettige bron te aanvaar.

Meer onlangs het die 12-jarige Daniela* van die stad La Caucana haar pa, pastoor Plinio*, verloor in ʼn sluipmoord-aanval omdat hy dit gewaag het om die liefde van Christus te verkondig in ʼn gebied onder dwelmbendes se beheer. Die moord was die dwelmbendes se waarskuwing aan Christene dat hulle hul aktiwiteite in die omgewing moet staak.

“Daniela mis haar pa die ergste gedurende die Kerstyd. Gewoonlik het hulle dit as gesin saamgevier, maar vanjaar sal haar pa se plek aan die Kerstafel egter leeg wees.

“Sy sê wel dit help haar om te weet dat ander mense oral in die wêreld gedurende die feestyd vir haar gesin bid.”

Gouws het verder gesê Daniela en haar gesin is verlede jaar met Kersfees na Geopende Deure se kindersentrum geneem waar hulle traumaberading kon ontvang. Daniela se gesin het vier weke by die sentrum deurgebring, waar sy net weer ʼn kind kon wees en saam met ander Christen-kinders kon speel.

“Daarna het Geopende Deure gereël dat die gesin by ʼn nuwe huis in ʼn veel veiliger omgewing in die stad Caucasia kon intrek. Tog is dit selfs hier nie ongewoon om geweerskote te hoor nie.

“Daniela en haar gesin se verhuising is moontlik gemaak deur die gebede en skenkings van ons ondersteuners.”

Geopende Deure versterk die vervolgde kerk in Colombia deur Bybelse opleiding, traumaberading, opleiding vir gemeenskapsontwikkeling, die verbetering van infrastruktuur, onderwysprogramme wat kindersentrums en beurse insluit, asook noodlenings vir slagoffers van vervolging.

Gouws moedig lesers aan om saam met Geopende Deure en die familie in Christus die hoop van Kersfees en die geskenk van ʼn veiliger toekoms aan vervolgde families soos Daniela sʼn te bring.

Besoek Geopende Deure se webwerf vir meer inligting. Dit is ook hier waar jy kan uitvind op watter wyse jy troos en vreugde aan ons vervolgde families kan bring.

Bid vir Colombia

  • Bid vir krag en beskerming vir Christelike leiers wat vervolging deurmaak, asook vir ʼn verandering van kulturele waardes.
  • Bid dat die mag van guerrillagroepe, wat streke in geheel beheer, sal afneem.
  • Bid vir Christen-bekeerlinge wat voorvadergelowe agterlaat en dikwels isolasie en verwerping van hul families ervaar.

*Name verander weens veiligheidsredes.

  • Jan Gouws, uitvoerende direkteur van Geopende Deure Suider-Afrika, het in Maroela Media se ateljee kom kuier om te gesels oor die uitdagings wat vervolgde Christene gedurende Kerstyd ervaar. Hy het met Esté Meyer Jansen gesels oor Colombia waar die Christen-meerderheid gereeld met geweld en teistering vanaf georganiseerde misdaadgroepe te doen kry. Christene in die land se enigste wapen is gewoonlik hul onwrikbare geloof. Luister na die volledige gesprek boaan hierdie berig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.