Kies Hom wéér hierdie Paasfees!

Foto: Geopende Deure

Goeie Vrydag is om die draai, en vir baie van ons is dit ‘n geleentheid om tyd saam met familie te spandeer, Paaseiers en warm Paasbolletjies te geniet én die kruisdood en opstanding van Jesus Christus te vier. Terwyl ons hierdie jaar vir die soveelste keer die boodskap van Jesus se oorwinning aan die kruis hoor, is dit weer tyd om eerlik vir onsself te vra: Het ons saam met Hom gesterf en opgestaan?

ʼn Lewe van verlossing is nie ʼn eenmalige belydenis nie, maar ‘n daaglikse een waarin ons oor en oor moet kies om Jesus in elke omstandigheid te volg. Dit is wanneer ons ons eie begeertes laat sterf en God se wil laat heers, selfs in situasies waar dit onmoontlik lyk. Dit is soos ‘n daaglikse doop, waar ons sê: “Nie my wil nie, maar U wil ” of “Ek volg Jesus, ongeag wat!”. Net onlangs is hierdie besluit gemaak deur 16 nuwe bekeerlinge in ʼn geheime byeenkoms in die hartjie van die Midde-Ooste.

Foto: Geopende Deure

Dit was ‘n sonnige Sondagoggend in Libanon, tydens ʼn samekoms van ʼn gemeente van ongeveer 60 mense, toe 16 jong Siriërs Droese (lede van ʼn Islamitiese sekte) hulle geloof in Jesus bely het en gedoop is – ʼn bewys van die nuwe herlewing van die Liggaam van Christus in die Midde-Ooste. Terwyl hierdie jongmense opgewonde in ‘n ry gestaan het om in die swembad gedoop te word, was daar ‘n duidelike viering, ‘n oproer van hoop en die vestiging van die troon van God in een van die gevaarlikste plekke om ‘n Christen te wees. In hierdie oomblik van vreugde styg ‘n lied uit die harte van die gemeentelede;

Ek het besluit om Jesus te volg,
ek het besluit om Jesus te volg
Geen omdraai nie, geen omdraai nie
Die wêreld agter my, die Kruis voor my,
die wêreld agter my, die Kruis voor my
Geen omdraai nie, geen omdraai nie.

Foto: Geopende Deure

Die sing van hierdie lied, geskryf deur ‘n vervolgde Christen wat vir Sy geloof gesterf het, is bewys dat hierdie jongmense verstaan ​​wat dit beteken om ‘n volgeling van Jesus te wees: Die risiko dat hulle hul lewens kan verloor, maar ook dat hulle vasbeslote is om selfs die hoogste prys daarvoor te betaal. Want om vir Jesus te sterf is vir hulle ’n wins!

Dawid*, die predikant van die kerk deel: “God werk… onder alle mense… ek sien die begin van ‘n herlewing onder die Droese en die Koerde in Sirië. Honderde [mense] is gered tydens die [Siriese] oorlog; Voor die oorlog was daar net ‘n paar verborge en geheime gelowiges. God het tydens hierdie oorlog op sy spesiale manier gewerk.”

Selfs te midde van oorlog en ekstremisme, bou Jesus na meer as 2000 jaar steeds Sy Kerk – self in die gevaarlikste plekke om ʼn Christen te wees. En soos die voorhangsel in die tempel geskeur het, kan elkeen van ons, ook Droese en Moslems, Hom nou leer kan en deel in Sy oorwinning! Vir hierdie nuwe gelowiges is hulle doop maar net die begin van hulle wandel met God…

Mag hierdie nie ‘n tipiese Paasfees vir my en jou wees nie, maar ‘n geleentheid waar ons besluit (dalk vir die eerste keer) om waarlik Jesus te volg… geen omdraai nie!

Geopende Deure voorsien geestelike en praktiese ondersteuning aan die vervolgde Kerk in meer as 60 lande – selfs wanneer dit byna onmoontlik moeilik of gevaarlik lyk om geïsoleerde gelowiges te bereik. Ons bly toegewyd daaraan om te gaan waar niemand anders bereid is om te gaan nie. Klik hier om vir so min as R50 ʼn bydrae te maak om vervolgde gelowiges te ondersteun.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.