Gedagte vir die dag: Kies nou

Vrou_sit_hek_sonsondergang_stiltetyd.jpg

Foto: invertedculture.net

[Christus het] net een keer in die voleinding van die tye verskyn om deur sy offer die sonde weg te neem. ’n Mens is bestem om net een maal te sterf, en daarna kom die oordeel. So is Christus ook net een maal geoffer om die sondes van baie weg te neem. (Hebreërs 9:26-28)

John Harper was ’n bekende Baptiste predikant wat in sy leeftyd talle mense vir God se koninkryk gewen het. Hy was genooi om in Londen te gaan preek en het per skip daarheen gevaar. Hy was een van die passasiers wat 10 April 1912 aan boord van die Titanic gestap het. Die vierde aand het Harper op die dek gestaan om die sonsondergang te bewonder. “Dit gaan môre ’n pragtige dag wees,” het hy vir ’n passasier gesê wat langs hom gestaan het. Min het hy geweet dat hy ure later ’n indringende gesprek oor Christus met die man sou voer.

Maande later het hierdie man met wie Harper gepraat het in Kanda getuig hoe Harper hom, toe hulle beide aan ’n stuk dryfhout om lewe en dood geklou het, in die ysige koue water tot bekering gelei het. Hy vertel: “Harper het my gevra: ‘Is jy gered?’ ek het ‘nee’ geantwoord. Harper het in die donker uitgeroep: ‘Gee dan nou jou lewe vir die Here en jy sal gered word.’ Die branders het Harper van my laat wegdryf, maar ’n rukkie later het die water hom weer na my toe teruggestoot. ‘Is jy nou gered?’ het Harper uitgeroep. ‘Nee,’ het ek geantwoord.

‘Gee dan nou jou lewe vir die Here Jesus Christus en …’ voor hy nog die sin kon voltooi, het hy sy greep op die stuk hout verloor en voor my verdrink. Daar in die donker alleen in die ysige water het ek Christus as my Verlosser aangeneem. Ek was John Harper se laaste bekeerling.”

Wat ’n aangrypende ware verhaal. Ons mag nooit ophou om met ons lewe en woorde van God se groot liefde te getuig nie. Die Here wil ons op dié manier gebruik. In die Bybelse tyd het die hoëpriester jaarliks tydens die groot versoeningsdag die Allerheiligste deel van die tempel binnegegaan om met offerdiere se bloed mense se sondes te versoen. Jesus se eenmalige offer was genoeg om vir altyd met sonde klaar te speel. Die tyd wat mense hulleself herhaaldelik moes kasty om hul brouwerk te herstel is vir goed verby. Kies Christus vandag.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ansa ·

Baie dankie wat n aangrypende verhaal Ja as ons ons sonde belei Hy is getrou en regverdig om ons sonde te vergewe Ons moet ook probeer om elke dag n siel vir Jesus te wen

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.