Gedagte vir die dag: Kies om afhanklik van God te bly

loop-saam-met-God

Foto: Theworddetective.wordpress.com

Daarom, wie meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie. Geen versoeking wat meer is as wat ’n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie … Hy [sal] ook die uitkoms gee … (1 Korintiërs 10:12-13)

Iemand het eenkeer gesê: “Versoekings is soos boemelaars, behandel een goed en hy sal terugkom met al sy vriende!”

Elke mens, ja Christene ook, word daagliks deur versoekings geteister. Dit is interessant dat versoekings nie uniek is nie; enigiets wat oor jou pad kom, het iemand anders al deurworstel. Die goeie nuus is saam daarmee kom ook die uitkoms. Wanneer ons eerlik met onsself is en terugkyk na die kere toe ons voor verleiding geswik het, sal ons goed onthou dat daar tog ’n oomblik was, net voor ons verkeerd gekies het, wat ons “nee” kon sê. In daardie oomblik het die Heilige Gees ons sag daaraan herinner dat dit wat ons op die punt staan om te doen nie in ooreenstemming met God se wil is nie. Dit was God wat net daar vir ons uitkoms wou bied, maar ons het dit nie aangegryp nie.

Paulus sê volwasse Christene dissiplineer hulself om God beter te kan dien. Hy sê ’n mens is geestelike onvolwasse wanneer jy nie genoeg selfdissipline aan die dag lê nie. Ja, die Christelike lewe vra opoffering en inspanning om te volhard. Paulus bemoedig Christene om getrou te bly en nie toe te gee aan versoekings in die gelade eindtyd nie. Hy beklemtoon dat God ons help om dit te weerstaan omdat God ons daartoe krag gee.

Neil T Anderson het gesê: “Aan die kern van alle versoekings lê die uitnodiging om onafhanklik van God te leef.”

Kyk van vandag af anders na versoekings, sien dit eerder as geleenthede om jou afhanklikheid van God te verklaar. Onthou die dinge wat jou versoek is nie sondig nie, maar wanneer jy daarvoor swig word dit sonde. Hou daagliks in groot afhanklikheid aan God vas, erken dat jy Hom nodig het, dat jy afhanklik van Hom is om verleidings te weerstaan. Wanneer jy dit sonder Hom probeer doen, stap jy oop-oë in hartseer in.

Bron:
Stilword vir vroue deur Liesel Krause-Wiid
Uitgewer: Carpe Diem Media

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karl ·

Baie dankie vir jul waardevolle boodskap vandag en al die ander dae. Dit word soos my dagstukkie vir elke dag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.