Daar is net een ding wat regtig saak maak: om God te ken. Maria weet dit. Daarom het sy die regte keuse gemaak. Niemand sal dit ooit van haar kan wegvat nie. (Lukas 10:41)
Sjoe, hierdie woorde van Jesus moes nogal aan Marta se hart geruk het. Was sy dan nie die een wat alles in haar vermoë gedoen het om diensbaar te wees nie? En nou sê Jesus vir haar dat haar suster – wat aan Jesus se voete gesit het – eintlik die beter keuse gemaak het. Dat tyd by Hom ewigheidswaarde inhou!
Ek en jy weet hoe dit voel om gedurig ’n lys van verpligtinge te hê en altyd in sewende rat te beweeg. Maar luister vandag weer wat Jesus vir ons sê: “Moet nooit so besig wees dat jy nie tyd het om by My stil te word nie. Want dit wat Ek vir jou gee, is vir altyd!”
Die lewe bestaan uit keuses. Besluit vandag om jou lewenspatroon en -wyse so te verander dat jy genoegsame tyd sal hê om aandag te gee aan dié dinge wat regtig saak maak: Dinge soos stiltetyd, gebed en Bybelstudie.
Here Jesus, maak my stil sodat ek u stem sal hóór.
Here dankie dat U altyd daar is vir ons, selfs as ons te besig is om daar te wees vir U.