Gedagte vir die dag: Kies reg!

God-sentrum-van-my-lewe

Foto: Argief

Lees: Jeremia 21:8-12

Die Here het vir Jeremia gesê: Jy moet vir hierdie volk sê: So sê die Here: Ek gee julle die keuse: wil julle lewe of wil julle sterwe? (Jeremia 21:8)

God gee die profeet Jeremia ’n belangrike opdrag om aan die volk oor te dra. Hulle moet self kies of hulle wil lewe of sterwe. Israel kies telkens verkeerd en moet dan die gevolge van hierdie verkeerde keuses dra.

Die keuses wat jy vanjaar maak, gaan jou hele lewe ten goede of ten kwade beïnvloed. Ons kry belangrike en minder belangrike keuses. Daar sal geen haan daarna kraai as jy kies om jou hare rooi te kleur of ’n lawwe modegier te volg nie. Om egter met die verkeerde man te trou of ’n verkeerde loopbaan te kies, gaan verreikende gevolge vir die res van jou lewe inhou. Die afgelope jare het baie pensioenarisse die verkeerde mense gekies om hul beleggings te bestuur, met die gevolg dat hulle al hulle geld verloor het en baie van hulle nou gedwing word om aan te hou werk. Doen dus éérs jou huiswerk voordat jy kies.

Voordat jy enigiets anders kies, maak eers die heel belangrikste keuse: Kies God as die Heer van jou lewe; dan kan jy nie verkeerd gaan nie. Raadpleeg God altyd oor jou keuses. Wees gewillig om jou aan Bybelse riglyne te onderwerp en moenie ten alle koste jou eie kop wil volg nie. God weet presies watter keuses vanjaar vir jou die beste sal wees, en as jy op Hom wag, sal die Heilige Gees jou in jou keuses lei.

Here, U weet dat ek al dikwels in die verlede verkeerd gekies het. Ek bid dat u Gees my vanjaar sal lei om elke dag die regte keuses te maak. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Hennie Theart ·

Ek sien geen antwoord of poste hierop nie.
Lees ander poste en daar is baie terug voerings.
My pos op die De Klerk stigting is dus naby of in die kol…….. ons volk het afgedwaal van die Here ons God af.
Lees die teks uit die Bybel hierbo en antwoord die vraag – wil jy lewe of wil jy sterwe??
Ons as Suid Afrikaners moet tergkeer na ons God en Hom dien en loof, dan sal dit goed gaan met ons in die land wat die Here ons God vir ons gegee het.

Jaco Grobler ·

Ek wil ‘n raaiskoot vat en sê meeste van die mense wat in die laaste sensus verklaar het hulle is Christene (naby aan 80% van SA populasie), het nog nooit regtig God ontmoet of aangeneem nie…..ek wil dus jou stelling aanvul deur te sê ons moet God ontmoet (eerste ontmoeting of herontmoeting) en aanvaar as ons enigste redder.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.