Gedagte vir die dag: Klim uit daardie blaamspeletjie uit

see_sonsopkoms_hart_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Verdra mekaar en as enigeen ’n klagte teen iemand anders het, vergewe mekaar. Vergewe mekaar soos die Here julle vergewe het. (Kolossense 3:13)

Skuldig! “Guilty as charged!” Dit is een van die verdoemendste uitdrukkings denkbaar. Blaam het dieselfde effek. “Dis jou skuld; dis jou familie se skuld; dis die regering se skuld; dis die kerk, die werk, die skeidsregter se skuld … ” Ad infinitum hou dit net aan en aan. Hier is geen wenners nie. Nee wag, dié wat die blaamspeletjie begin, wen altyd. Dié wat daardie “dis jou skuld”-spel inlei, eindig bo. Ons as navolgers van Christus durf nie saamspeel nie. Die evangelie het ons vrygemaak van skuld. God het ons eie oortrokke rekening by Hom afgeskryf. Ons leef aan die afbetaalde kant van die draad. Daarom moet ons met dieselfde ruim ingesteldheid leef. Ons moet mense verras wat vasgevang is in skuld, blaam en bitterheid deur nie hierdie spel verder te speel nie. Ons moet sulke boeke toemaak, soos wat ons Heer met ons gemaak het.

Van die begin van die mensdom af wil mense die middel punt van die aandag wees. Dink maar aan die eerste mensepaar in Genesis 3. Dit was nie goed genoeg dat God saam met hulle kom stap het nie. Nee, hulle wou soos Hy wees. Hulle wou nie buig nie; hulle wou op trone sit. Toe dit nie gebeur nie, blameer hulle mekaar. Ons moet dus nie verbaas wees dat mense vandag nog so leef nie. Almal smag na mag en erkenning. Daarom dat Jesus my so aangryp. Die meeste dinge wat Hy gedoen het, vanaf sy geboorte tot sy hemelvaart, was stil en dikwels ook buite die openbare oog. Hy het nie gekom om te blameer of om gedien te word nie, maar om te dien. Kom ons volg Hom, dan kom daardie blameerspeletjie tot ’n einde in ons lewe.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

lewies ·

Dit is ‘n baie, baie mooi perspektief op ‘n groterwordende probleem in die samelewing. Die vernietigende uitwerking op die skuldenaar self, maar ook op sy/haar verhoudingslewe is onmeetbaar en katastrofies.

Mag die realiteite van ‘n negatiewe leefwereld nooit die waarheid van hierdie “gedagte vir die dag” oorskadu en verduister nie.

“Here wees ons arme sondaars genadig”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.