Gedagte vir die dag: Klippie in my hart

 dam-water-klippies-stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

“Soos jy jou eie gesig sien as jy in die water kyk, so sien jy jouself in wat jy dink.” (Spreuke 27:19 AFR83)

Het jy al ooit langs ʼn groot plaasdam gesit, na jou spieëlbeeld in die water gekyk en dan ʼn klein klippie in daardie dam gegooi en gesien hoe daardie geringe, nietige aksie in ʼn oogwink jou pragtige weerkaatsing in ʼn verwronge beeld omskep?

So ook kan elke lelike gedagte wat kom rondmaal in jou kop vergelyk word met so ʼn klippie. Dit hoef nie eens noodwendig duisende brandnetels of een enorme probleem te wees nie. Soms neem dit net daardie een klein jakkalsie om jou hele uitkyk en lewensparadigma te beïnvloed.

Raak vir ʼn oomblik sommer net daar waar jy sit stil. Wat is die klippie in jou hart vandag? Is dit vrees of angstigheid? Is dit hartseer? Is dit afguns of woede, onvergewensgesindheid, ongeduld of onvergenoegdheid?

Dink vir ʼn oomblik met erns daaroor na … Dit is geen ligtelike saak nie; die koers van jou lewe is in die hand van ʼn gedagte. Daarom, waak teen dít wat in jou hart omgaan. Vra die Here om jou hart te deurgrond en elke gedagte uit te wys wat nie van Hom af is nie. Bring elke aanstootlike gedagte en elke sterk vesting van die vyand in ooreenstemming met die hart van die Vader; neem dit gevange tot gehoorsaamheid aan Christus Jesus.

Vertrou die Here met elke bekommernis en met elke hartsaak, want Hy is getrou en regverdig. Weet dat die Here alles ten goede sal laat meewerk vir dié wat in absolute oorgawe aan Hom leef. Weet dat Hy reg sal laat geskied en sy oordeel goed is. Laat sy vrede en liefde jou hart deurspoel. Laat sy Heilige Gees jou op die beproefde pad lei sodat die spieëltjie van jou hart ook die hart van Jesus Christus sal reflekteer. Mag almal vandag in jou die lig van sy hoop sien!

Geskryf deur Alta Strauss
Facebook | Instagram | E-pos

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johanna ·

Dankie Alta .. n sterk boodskap om diep in ons harte te kyk na wat Jesus daar sien!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.