Kollig val weer op die vervolging van Christene in China

Foto verskaf deur Geopende Deure

China is die afgelope tyd voortdurend in die nuus weens die uitbreking van die dodelike Koronavirus, wat tot dusver al die lewens van meer as 900 mense geëis het en teen ’n skrikwekkende tempo na ander lande versprei.

Die mediadekking wat China as gevolg van die epidemie kry, laat die kollig weer opnuut op die vervolging van Christene in dié wêreldmoondheid val. Die organisasie Geopende Deure, wat hom daarop toespits om vervolgde Christene in meer as 60 lande te ondersteun, se 2020 Wêreldwaarnemingslys het aan die lig gebring dat China vier plekke op dié lys gestyg het en nou op nommer 23 is van lande met die ergste vervolging van Christene.

Vervolging in China

Foto verskaf deur Geopende Deure

Die benarde situasie van Christene het oral in die land toegeneem, met kommunistiese onderdrukking deur die regering. Slegs 7% van die bevolking is Christene. Die regerende Kommunistiese Party het in Februarie 2018 streng nuwe wetgewing oor die beoefening van Christenskap ingestel en alle aanlyn verkope van Bybels verbied. Die regering het sedertdien sy veldtog teen gelowiges opgeskerp en vervolg en sluit kerke (selfs huiskerke) oral in die land. Kerke word aangeval en beskadig, kerkleiers gevange geneem en kinders verbied om kerk toe te gaan.

Godsdiens in die openbaar word verbied, terwyl onderwysers en mediese personeel gedwing word om dokumente te onderteken wat verklaar dat hulle geen godsdiens beoefen nie. In sommige gebiede word bejaardes gedreig dat hul pensioene opgeskort sal word as hulle nie hul Christen-geloof prysgee nie.

Christene wat vanuit ’n Moslem- en Boeddhistiese agtergrond kom, ervaar die ergste vervolging vanaf hul families en gemeenskappe. Hulle hou hul geloof dikwels ’n geheim en kan nie openlik met ander gelowiges vergader nie. Indien hul geloof ontdek word, kan hulle gedreig, geslaan en in die tronk opgesluit word.

Geopende Deure se bediening in China, in samewerking met inheemse leiers, versterk die Liggaam van Christus deur Bybelse en dissipelskap-opleiding om die Chinese Kerk voor te berei op vervolging en die verspreiding van Christelike literatuur aan veral gelowiges vanuit ’n Moslem- en Boeddhistiese agtergrond.

Bendeleier nou pastoor

Pastoor Chai*, wat eens ’n gevreesde bendeleier was, word nou deur God gebruik om die Evangelie aan ’n Boeddhistiese gemeenskap te verkondig. Hy moes vlug toe sy misdadige bedrywighede hom in die moeilikheid laat beland het, waarna Christen-familielede hom onder hulle vlerk geneem het.

“Ek het Jesus deur my familielede ontmoet en my lewe het daarna radikaal verander. Ek het na my tuisdorp teruggekeer om die Evangelie met die Boeddhistiese gemeenskap te deel. Talle mense het tot bekering gekom, maar staar nou ernstige vervolging in die gesig. Geopende Deure help om hulle op die ergste voor te berei deur opleiding in my kerk,” vertel hy.

Vervolging laat geloof groei

Pastoor Jin* lei ’n kerk in die provinsie waar vervolging die ergste is en was al in die tronk oor sy geloof. Hy aanskou eerstehands hoe die Chinese regering op gelowiges toeslaan en dit duidelik maak dat Christelike byeenkomste nie geduld sal word nie.

Hy sê: “Pleks van om die Kerk te vernietig, het hierdie nuwe golf van vervolging egter meegebring dat gelowiges se verhouding met Jesus groei en verdiep. Die polisie-klopjagte en tyd in die tronk het ons uitkyk heeltemal verander.

“Ons het begin om ’n vervulling in ons samesyn te ervaar wat nie vantevore daar was nie. Ons bid gereeld vir mekaar, verhoudings word herstel en wonderwerke gebeur weer.”

Krag van gebed

Foto verskaf deur Geopende Deure

Pastoor Timothy* is ’n bejaarde kerkleier in China met wie Geopende Deure al vir jare saamwerk. Hy getuig veral oor die krag van gebed en hoe God dit gebruik om hulle te beskerm.

“Toe ek toegesluit was, het ek in die sel gekniel en gebid. Almal in ons gemeente – van die jongste kinders tot ons ouer broers en susters – ken die krag van gebed. Ons hou aan om te bid, ongeag wat ons deurmaak of van beskuldig word. God is so getrou. Hy antwoord altyd ons gebede – soms op die wonderlikste, mees bisarre maniere,” vertel hy.

Bid asseblief saam met ons Chinese broers en susters wat deur die regering vervolg en deur hul gemeenskappe verwerp word dat hulle geloof ondanks vervolging versterk sal word. Vra die Here om Sy lig deur gelowiges te laat skyn sodat ander Hom daardeur kan leer ken en Jesus sal aanneem.

Besoek Geopende Deure se webtuiste by https://www.opendoors.org.za/afr/raak-betrokke/ vir meer inligting oor hoe jy deur gebed en op ander maniere betrokke kan raak by ons vervolgde familie.

*Skuilname is weens veiligheidsredes gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.