Gedagte vir die dag: “Kom!”

uitgestrekte-hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.” (Jesaja 1:18)

Dis altyd lekker om ’n uitnodiging te ontvang. Ek is byvoorbeeld mal oor troues en ek gaan graag as ek genooi word. Om darem daardie opwindende voorreg mee te maak wanneer twee mense hul huweliksbeloftes aan mekaar gee …

Ek hou ook daarvan om na ’n braai genooi te word. Die kuier en kos en die ontspanne atmosfeer is altyd ’n bederf. Dikwels is ek sommer net dankbaar as my geliefde my nooi om in sy arms te kom vertoef. ’n Stywe drukkie maak die wêreld mos ’n beter plek!

Daar is twee uitnodigings in God se Woord wat ek aanvanklik met huiwering aanvaar het. Ek kon dit in elk geval eers regkry toe ek nederig genoeg geword het, toe dankbaarheid in my hart begin groei het. Toe kon ek die volle omvang daarvan raaksien en kon ek ja sê.

Die eerste een was Jesus se uitnodiging in Matteus 11:28 (ek het dit in die 1933/53-vertaling gelees): “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee.”

Ek wou nie hierop reageer nie, want ek het gereken ek sal dinge self kan uitsorteer. Ek is mos sterk genoeg, en dis ’n erkenning van swakheid om te sê my kragte en vermoëns is nie genoeg vir die wêreld se uitdagings nie.

Maar Jesus het aanhou vra: “Kom! Kom na My toe …”

Uiteindelik het ek die uitnodiging aanvaar, en ek was só dankbaar daaroor. Ek het immers nie gegaan na iemand wat my beveel het om dit te doen nie. Ek het geweet Hy is ook die Een wie se juk sag en wie se las lig is, wat sagmoedig en nederig van hart is. O, hoe het die aanvaarding van daardie uitnodiging nie rus vir my siel gebring nie!

Hy het ’n verdere uitnodiging aan my gerig, en dit was een wat my op ’n plek vol donkerte en sonde bereik het. My eie besluite het my tot daar gebring, en ek het totaal onwaardig gevoel om in God se gedagtes te wees; wat nog te sê sy vergifnis te ontvang.

Maar sy woorde in Jesaja 1:18 was juis vir my: “Kom tog, laat ons die saak met mekaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu. Al was julle purperrooi, julle sal wit word soos wol.”

Ek het Hom hoor roep, soos ’n ma wie se kind huil van die pyn, het ek Hom hoor roep: “Kom! Kom tog …” En ek het my hart vol donkerte en my siel vol skaamte na Hom toe gedraai en huiwerig sy uitnodiging aanvaar.

Hoe soet was daardie ontmoeting nie! Jesus het my hart en siel en gees gewás, so skoon soos sneeu en so wit soos wol. Sy uitnodiging geld vandag vir jou ook. Hy sê: “Kom! Kom …”

Here, dankie dat U my roep om u genade en goedheid van naby te beleef.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.