Gedagte vir die dag: “Kom agter My aan”

woud_pad_stilte_boekevat_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Toe sê Jesus vir sy dissipels: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Matteus 16:24)

Daar is ’n koste aan dissipelskap, en dit is noodsaaklik om hier die waarheid te verstaan voordat jy ’n keuse maak. Dit is onregverdig om mense verantwoordelik te hou vir iets waarvan hulle nooit die geleentheid gebied is om die koste te bereken nie. Ons moet mense help om die volle implikasie van dissipelskap te verstaan.

Toe ons jonk was, het ons meer moed as verstand gehad en dinge soms halsoorkop gedoen. Namate ’n mens ouer word, dink jy aan die moontlike gevolge voordat jy iets doen. Een van die moeilikste dinge in ons moderne tyd vir mans is dissipline. Selfs Jesus moes ’n gedissiplineerde lewe lei. “Discipline is what the modern man needs the most, and wants the least.”

In Lukas 2:52 kry ons ’n goeie beskrywing van die verskillende tipes dissiplines: “Jesus het verstandelik en liggaamlik gegroei en in guns by God en die mense toegeneem.”

  • Hy het verstandelik toegeneem. Dit is intellektuele dissipline. Om te volhard moet ek gedissiplineerd die Woord bestudeer.
  • Hy het liggaamlik toegeneem. Dit is fisiese dissipline. Om te kan volhard moet ek gedissiplineerd my liggaam oppas.
  • Hy het toegeneem in guns by God. Dit is geestelike dissipline.

Om te kan volhard moet ek gedissiplineerd tyd maak vir God.

  • Hy het toegeneem in guns by die mense. Dit is sosiale dissipline.

Om te volhard moet ek gedissiplineerd ander mense bedien.

“Kom agter My aan” beteken om die koste te bereken deur Hom gedissiplineerd te volg.

Here, ek wil graag die volle pad saam met U loop. Help my om die koste van dissipline te bereken sodat ek U kan volg tot die einde. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.