Gedagte vir die dag: Kom, ontvang!

Foto: pixabay.com

Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word. (Hebreërs 4:16)

Een somervakansie het ons by familie gaan kuier wat by die see gewoon het. Ek was ’n jong kind, nog op laerskool, en daar was ’n hele spul maatjies met wie ek kon speel. Die familie het in ’n woonstel gebly en ons kinders was gedurig in en uit by die voordeur.

Op ’n keer het ek en ’n maatjie besluit ons het nou genoeg gehad van buite speel. Ons wou binne wees, daar waar die grootmense is. Ons is woonstel toe en ek het die deur oopgestoot. Maar sommer met die eerste tree oor die drumpel het ek besef dis die verkeerde woonstel; dis die bure s’n!

My maatjie was eensklaps skoonveld en ek het dadelik laat spaander – sonder om die deur toe te maak.

Ná hierdie ondervinding het ek ’n paar uur lank bly wonder of die bure sou kom kla oor ’n vreemde kind wat sommer in hul woonstel inkom en dan nie eens die ordentlikheid het om die deur toe te maak nie.

Nou, jare later, wonder ek wat ek sou gevind het as ek wel verder in die woonstel in gegaan het. Ek kies om te glo dat daar mense sou gewees het wat my hartlik ontvang en my met goedheid in hul hart sou gehelp het om die regte woonstel te vind.

Dit gebeur dikwels dat God ons innooi en sê: “Kom hier! Kom na My toe.”

En as ons nader gaan en in sy teenwoordigheid kom – wat sal ons daar vind? Of sal ons eerder omdraai voordat ons waarlik ontvang het wat Hy aan ons wil gee? Dalk huiwer omdat ons eerder straf as liefde verwag?

Waarom verwag ons altyd die “ergste” van God? Is dit dalk ons ondankbaarheid? Is dit dít wat ons ons geloofsoë laat toeknyp en ons laat huiwer om God te nader?

Ja, wat sal ons vind as ons al die pad tot by God se hart kon loop? Barmhartigheid en genade? ’n Redder, ’n Hoëpriester wat ons swakhede ken en steeds aan ons genade bewys?

Die Hebreërsskrywer het die antwoord: “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word” (Heb 4:16).

Is dit nie ’n wonderlike uitnodiging nie? Hierop kan ons slegs met groot dankbaarheid reageer.

Here, help my om met vrymoedigheid na U te gaan. Dankie vir die genade en barmhartigheid wat by U op my wag.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Saintjordaan ·

Die Skrif is verkeerd vertaal, want God het redding maklik gemaak, die gelowige is klaar gered wees die klaarwerk van die kruisoffer
1 Pet 1:3
Geseend is die God en Vader van onse here Jesus Christus wat na Sy groot barmhartigheid ons die WEDERGEBOORTE geskenk het tot ‘n lewende hoop (op heerlikheid Kol 1:27) deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood….
Die bbetrokke Skrif lees:
Heb 4:16 Laat ons met vrymoedigheid na die troon van genade (INSTRUKSIE OF LERING) gaan sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade (instruksie) ontvang om op die regte tyd gehelp te kan word.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.