Gedagte vir die dag: Kom rus by die Christuskind

Herder_skape_veld_stiltetyd.jpg

Foto: Carbonchurch.com

En jy, Betlehem, in die landstreek van Juda, jy is beslis nie die onbeduidendste dorpie in Juda nie; want uit jou sal daar ’n leier voortkom wat my volk Israel sal versorg soos ’n skaapwagter sy skape. (Matteus 2:6)

Kersfeestyd is sinoniem met liggies, geskenke en Kersmusiek. Dis asof die meeste mense skielik in ’n ander stemming is. Verby is November se swaarmoedigheid. Almal wil afskakel en rus. Rus is tereg ’n lewensbelangrike deel van ons lewe. Ons kan nie dagin en daguit, of jaarin en jaaruit in sesde rat vorentoe jaag nie. Van die begin af het God bedoel dat daar genoeg rustyd in ons lewens moet wees. Ons moet ook genoeg tyd maak vir slaap. Slaap is medisyne vir ons siel. Dis hersteltyd vir ons kop en lyf. As jy dus so bevoorreg is om hier in Desember ’n breek te vat, doen dit met oorgawe. Rus, lag, speel! O ja, en vind jou vreugde steeds in die Here. Onthou sy belofte in Psalm 127 dat Hy vir al sy geliefdes gee wat hulle nodig het terwyl hulle slaap.

Kom ook tot rus by die Kind. Dit gebeur nie in ’n glansryke paleis nie. Sy bed was ’n voerbak en sy matras was van strooi gemaak. Boonop was die eerste eregaste nie hooggeplaastes of godsdienstige leiers nie. Nee, dit was doodgewone skaap wagters. Presies só het God dit verkies. Sy Kind is nie ’n “hemelse celebrity” wat al die aandag op Homself vestig nie. Hy is nie ’n superheld uit die hemel met blink klere en spesiale wapens nie. Jesus het stilweg in die krip aangekom om sy Vader se hart te kom wys – een wat klop vir gewone mense, gewonde mense, randfigure, “nobodies” en selfs ook vir “somebodies”. Hy is Christus, die Here. Hy is vol genade en waarheid.

Jy is ’n genooide na sy fees vanjaar. Gryp hierdie kans om tot hemelse rus te kom met albei hande aan.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dries ·

Dis pragtige woorde Stefan, net by Jesus kry mens werklik rus en vrede en ware blydskap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.