Gedagte vir die dag: Kom terug na die Herder toe

God

Foto: Wattpad.com

Lees: 1 Petrus 2:20-25

Hy het self ons sondes in sy liggaam aan die kruis gedra. Daardeur is ons vir die sondes dood en kan ons lewe in gehoorsaamheid aan die wil van God. Deur sy wonde is julle genees. Julle het immers soos skape rondgedwaal, maar nou het julle teruggekom na julle Herder en die Bewaker van julle lewe. (1 Petrus 2:24-25)

In vandag se kernverse verwys Petrus na Jesaja 53, waar die profeet oor die dienaar van die Here praat: Ons het almal gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop, maar die Here het ons almal se sonde op hom laat afkom. Hierdie dienaar is deurboor oor óns oortredings en hy is verbrysel oor ons sonde. Alhoewel ons almal soos skape gedwaal het, is ons deur sy wonde genees.

Hierdie Skrifgedeelte word in die Nuwe Testament op Jesus van toepassing gemaak. Alhoewel sy volgelinge keer op keer van Hom weggedwaal het, was Hy nogtans bereid om vir ons sondes aan die kruis te sterf, het sy bloed gevloei sodat daardie sondes vir altyd uitgewis kan word.

Petrus doen ’n beroep op sy lesers om terug te kom na hierdie Herder. Miskien is jy op die oomblik ook ’n skaap wat ander weivelde gaan soek, en in die proses van die Herder weggedwaal het. Kom terug na jou Herder toe – daar is vir jou geen beter plek as digby Hom nie. Net Hy kan jou sonde vergewe en dit vir jou moontlik maak om van nou af in gehoorsaamheid aan God se wil te lewe.

Here Jesus, ek wil nie langer wag om na U terug te kom nie. Baie dankie vir die versekering dat U my elke keer met oop arms sal terugontvang. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

louis ·

Dankie HERE dat U my nie los wanneer ek wegdwaal nie maar U kom hasl my elke keer en brin my teru kraal toe met groot liefde. Dankie ver vergiffenis van sonde en die versoeningsbloed van JESUS U seun. Ek is bevoorreg om U kind te wees en dank U daarvoor! AMEN!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.