Gedagte vir die dag: Kompliment

 Roos_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

’n Goeie mens bring uit die oorvloed goeie dinge in sy hart goeie dinge te voorskyn en ’n slegte mens bring uit die oorvloed slegte dinge in sy hart die slegte te voorskyn. (Matteus 12:35)

Dit kikker my gemoed op wanneer iemand vir my ’n opregte kompliment vanuit ’n goeie hart gee. As ’n skrywer wat in isolasie werk, is dit vir my ’n wonderlike aansporing wanneer lesers my laat weet dat hulle ’n boek van my geniet het en dat dit vir hulle iets beteken het. Dit is wind onder my vlerke om aan te hou skryf en my gawes en talente te ontwikkel.

Ook as aktrise en spreker is dit vir my waardevol wanneer mense aan my bevestiging en erkenning gee. Dit is boustene wat my innerlike mens voed en opbou. ’n Opregte kompliment bou ’n mens op en voeg waarde by jou dag.

Tog kies so baie mense om eerder hulle monde soos beursies toe te zip en komplimente van ander te weerhou. Hulle swyg soos die graf en gee nooit positiewe terugvoering nie – selfs al hou hulle van iets.

Dan is daar die derde groep wat verkies om eerder die kritiese lens uit hulle sak en hart te haal. Hierdie klakouse is uit gewoonte alewig op soek na iets in ander wat hulle kan afskiet en kritiseer – al is dit net die kleur van ’n rok of ’n neusring wat hulle nie geval nie.

Aan watter groep behoort jy? Opregte komplimente is gratis bruistablette wat ons as ’n lig en seën kan gebruik. Dit laat mense bruikbaar, menswaardig en geliefd voel. Moenie snoep wees nie – gee vandag nog ’n mooi kompliment weg.

Here, gee dat ek elke dag sal kies om mense te komplimenteer en op te bou – tot eer van u Naam.

Bron:
Bruistablette vir die lewe deur Susan Coetzer
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

wilma ·

So stap ek op ‘n stadium op ‘n dame af om haar te komplimenteer met haar lieflike uitrusting toe sy haar hand voor my insteek en sê ek moet haar asb. nie pla vir geld nie! Ek het maar my “pose” gehou en gesê ek wou haar net komplimenteer met haar voorkoms. Sy het haar rug op my gedraai, maar haar man het om verskoning kom vra vir haar gedrag. Dit het my egter nie daarvan weerhou om nog steeds opregte komplimente uit te deel nie – jy maak dalk net iemand se blou Maandag ‘n lieflike sonskyndag.

Martie. ·

Ai, ek was ook n spesifieke dag omgesukkel en toe, onverwags, uit die bloute se die vrou voor my, ek lyk mooi!..Van daai oomblik af was ek in n beter bui en het weer geglo dat goeie mense bestaan! Dankie, engel-vrou, jy het my dag gemaak. xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.