Gedagte vir die dag: Konflik in die huis

twee_mense_stap_sonsondergang_boekvat.jpg

Foto: jorgeschulz.wordpress.com

Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig. (Matt 11:28-30)

In watter huise op hierdie aarde kom daar nie by tye konflik voor nie? Konflik as sodanig is glad nie ’n slegte ding nie. Dit beteken maar net dat mense wat nie eenders is nie ook nie te alle tye oor belangrike sake eenders dink nie. Daar is ’n botsing van idees, oortuigings, belange. En dit is dan net hier waar konflik gevaarlik kan raak. Dit gaan oor die korrekte hantering van konflik.

Dink gerus na oor wanneer konflik in jou eie lewe tot ’n uitbarsting gekom het. Wat was die oorsaak? Die grootste probleem is gewoonlik persoonlike trots. Eiesinnigheid. Onversetlikheid. En sodra ’n mens op die ek-troontjie klim, raak gesonde kommunikasie onmoontlik. Praat met mekaar. Nie skree nie. Nie sarkasties nie. Nie neerhalend en beskuldigend en beterweterig nie. Probeer heel eerste verstaan. En daarom moet jy luister, presies uitvind wat die ander persoon bedoel. Hoor meer as woorde, hoor sy of haar hartklop. En maak jou hart oop.

Die konflik tuis tussen huwelikmaats, ouers en kinders kan baie slegte gevolge hê as dit nie op ’n volwasse manier hanteer word nie. Dit mag nie gebeur nie. Die gesin is ’n net te kosbare omgewing om deur slegte gesindhede besoedel te word.

Gaan soek jou krag en troos by die Here. Luister na sy raad vir mense in konfliksituasies. Ja, Hy het ’n juk wat Hy jou oplê. Dis die juk van onselfsugtige liefde. Wees die een wat bereid is om onvoorwaardelik lief te hê. En omdat dit liefde is, is dit ’n sagte juk!

Die juk van liefde is ’n sagte juk.

Bron:
Nogtans sal ek hoop deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.