Gedagte vir die dag: Koninkryk, krag en heerlikheid

Blom_Reint_Dykema_14.jpg

Foto: Reint Dykema

O diepte van die rykdom en kennis en wysheid van God! Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! (Rom 11:33, 36)

Die ewige heerlikheid behoort aan God alleen. In die 1953- vertaling word die Ons Vader-gebed wat Jesus aan sy dissipels leer in Matteus 6:9-13 afgesluit met die woorde: “Want aan U behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid tot in ewigheid.” Ongelukkig val hierdie slot weg by die 1983-vertaling omdat dit nie in die grondteks van die Bybel voorkom nie. Dit is jammer, want dit beklemtoon die feit dat die koningskap, krag en heerlikheid vir ewig aan God behoort. As jy jou beywer vir God se koninkryk, sal Hy vir jou alle dinge daarmee saam gee, sy krag is onuitputlik en altyd tot jou beskikking en sy heerlikheid behoort deur jou weerkaats te word sodat almal dit sal  kan raaksien.

“God se innerlike heerlikheid is deel van sy wese. Dit is nie iets wat aan Hom gegee is nie. Al het niemand Hom ooit verheerlik, geëer of geloof nie, sou Hy steeds die glorieryke God wees wat Hy is. Dit is innerlike heerlikheid. Dit is die heerlikheid wat deel is van God se karakter. Dit is die openbaring en kombinasie van al sy eienskappe,” skryf MacArthur.

Om iemand te verheerlik beteken om daardie persoon as “heer” te erken. Is God al die Heer van jou lewe? Gee jy aan Hom die eer en heerlikheid wat Hom toekom?

Hemelse Vader, ek aanbid U as die Heer van my lewe, die Een aan wie die koninkryk, heerlikheid en mag behoort tot in ewigheid. Amen

Lees Romeine 11:33-36

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.