Gedagte vir die dag: Koninkrykskinders

kinders_stap_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Lees Lukas 18:15-17

“Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle”. (Lukas 18:16)

Dat een van die mees ongure episodes in die dissipels se geskiedenis so ’n duidelike uiteensetting van die evangelie bevat … Dit wys jou: Moenie ’n slegte situasie geringskat nie; God het ’n manier om blink water uit ’n dorre rots te tap.

Die destydse dissipels was maar ’n bontspul, om dit saggies te stel. Een ding weet ons: Hulle luister nie na hul Meester nie. Jesus het dan so pas ’n hartseer storie vertel van mense wat so godvrugtig in hul eie oë was dat hulle “op ander neergesien het” (Luk 18:9). En hier doen hulle, sy naaste volgelinge, presies dieselfde.

Nee, hulle hoor nie. Ons ook nie. Ons lees sy woorde, ons hoor hoe Hy sy destydse volgelinge kortvat, en ons sê ewe leedvermakerig: Kry vir julle! Julle stiksienige, balhorige, eenvoudige siele!

Ons merk nie op dat hierdie Meester met ál sy leerlinge praat nie. Dat ook óns moet verstaan hoe dit in God se koninkryk lyk. Dat dié koninkryk byvoorbeeld nie bevolk word deur die vootreflikste burgers onder sy son nie. Inteendeel: Jesus sê hulle is ’n spul kleintjies.

G’n grootmanne en vername vroue nie. Nie ’n baasspeler of koningkraaier in sig nie. Hier is reeds ’n Koning. Hy is die enigste Baas. Daarom is hier net plek vir kleintjies en mense soos hulle. Hulle weet hulle het nie op eie stoom hier gekom nie; hulle is hier ingedra. Sommige is skoppend en skreeuend tot hier gesleep.

Ook maar goed dit is hoe sake staan, dink ek nou. Hier is dus, goddank, ook plek vir stiksienige, balhorige, eenvoudige skepsels soos ek.

Hier is ek ook tuis, my Koning! Ek, onwaardige koningskind. U eiendom.

Bron: Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.