Gedagte vir die dag: Koop die tyd uit

tyd-horlosie

Foto: Dailygenius.com

Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd. (Prediker 3:1)

Niemand, nie eens die engele of Jesus self weet wanneer Hy weer terugkom nie – net die Vader.

‘Maar ’n huiseienaar wat weet watter uur die diewe kom om in te breek, sal gereed wees vir hulle,’ het Jesus gesê. Sy dissipels behoort net so gereed te wees omdat die Seun enige tyd van die dag of nag kan opdaag (lees Matteus 24:36–51).

Jesus vergelyk sy volgelinge met ’n verstandige, getroue slaaf wat aangestel word om na sy eienaar se eiendom en sy ander slawe om te sien terwyl hy weg is.

‘Dit is die slaaf vir wie sy eienaar by sy tuiskoms so aan die werk sal kry,’ sê Jesus. ‘Gelukkig is hy! Dit verseker Ek julle: Hy sal hom aanstel oor alles wat hy besit’ (Matt 24:46–47).

’n Ontroue slaaf wat sy eienaar se huishouding verwaarloos, sy slawe sleg behandel en op heterdaad betrap word terwyl hy saam met dronkaards fees­vier, sal die lot van huigelaars deel.

‘Daar,’ sê Jesus, ‘sal hulle huil en op hulle tande kners’ (Matt 24:51).

Ons kry gemiddeld 70 jaar om Jesus se opdragte uit te voer en sy liefde uit te leef waar ons werk en speel. Ons gaan in die lewe deur verskillende stadiums. Ons word groot en gaan skool, leer ander mense ken, leer van Liewe Jesus, ken die Bybelverhale, katkiseer, slaag matriek, bekwaam ons vir ’n beroep, trou, kry kinders, veg om kop bo water te hou. Dis soos dit werk, maar miskien gooi jou lewe baie ander draaie. Korter of langer – Jesus gee ons net genoeg tyd om ons keuse te maak. Vir Hom maak dit nie saak of ons in die oggend of laatmiddag begin werk het nie, ons beloning is dieselfde, so­lank ons Hom van harte dien en liefhet (lees Matteus 20:1–16).

Liewe Here, ons raak so besig met die lewe dat ons u opdragte systap. Wees ons asseblief genadig.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lollapot ·

Oe en daar gaan baie wees wat gevang gaan word terwyl hulle met dronkaards party.

Rosi ·

Ek stem nie saam met die volgende uitspraak hierbo nie: Niemand, nie eers die engele of Jesus self weet wanneer Hy terugkom nie- net die Vader.
Dit staan in Mattheus 24:36.
Hierdie uitspraak het Jesus egter gemaak in Sy volledige mensheid VOOR Sy kruisiging en VOOR Sy opstanding. NA Sy opstanding is Vader, Seun en Heilige Gees verenig in die volledige Drieënige God. Die Seun van die mens is dus nou volledig God en weet beslis wanneer die wederkoms sal wees.

Attie ·

Ons lees ook in Markus 13:32
,ook nie die engele of die Seun (Jesus) nie, maar net die Vader.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.