Gedagte vir die dag: Kosbaar en waardevol

sonsopkoms_voels_stiltetyd_Marco-Brits.jpg

Apoka Safari Lodge, Uganda (foto: Marco Brits)

Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies. (Matteus 10:29-31)

Die mens is die hoogtepunt van die skepping en die beelddraer van God – hy het hoë waarde! Die feit dat God menswees en menslikheid hoog aanslaan, is veral sigbaar in die feit dat Hy self – in Jesus Christus – mens word! Jesus noem Homself graag die “Mensekind” (letterlik: “Seun van die Mens”), waarmee Hy Homself as ’n gewone mens of ’n ware mens beskryf. Ja, Jesus is God wat mens geword het – meer nog, Jesus het sy menslikheid weer saam met Hom geneem na God toe! Daar, aan die regterhand van die Vader, leef die “Mens” vir ewig – die kruis se merke steeds sigbaar op sy hande en voete.

Ja, God het ’n intense belangstelling en betrokkenheid by die mens wat Hy gemaak het! Jesus beklemtoon dit ook – soos hier – dat die mens vir God kosbaar en waardevol is. Sy les daarmee is dat ons nie bang hoef te wees nie. God sorg vir ons! Glo dit tog, mens!

Dankie, Vader, dat ek meer werd is as al die voëls van die hemel, as al die lelies van die veld. Dankie dat U altyd  vir my sorg. Help my om in daardie wete te ontspan. Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Dankie Here ek verdien niks en nog steeds ontvang ek genade op genade…Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.