Gedagte vir die dag: Kosbaarder as goud, soeter as heuning

Blom_veld_stiltetyd_Juanita-Badenhorst.jpg

Foto: Juanita Badenhorst

Die eise van die Here vir sy diens is goed: dit staan altyd vas. Hulle is kosbaarder as goud, selfs as baie goud, soeter as heuning, as druppels uit ’n heuningkoek. (Psalm 19:10-11) – Deel 2

Die digter het die woord van God nou van alle kante belig, in verskillende terme daaroor gepraat en met elke sin net weer die heel eerste sin bevestig: Die woord van die Here is volmaak, dit gee lewe! (vers 8). En nou sluit hy hierdie lofrede oor die wet af met ’n waarde-oordeel. Wat is die woord van die Here vir jou werd? Dit is kosbaarder as goud en soeter as heuning!

Materiële voorspoed en lewensgenot – dit is nogal dié twee dinge wat vir die meeste mense sin aan die lewe gee. Geld in die bank en kos op die tafel. Miskien nog so effens beter: baie geld in die bank en ’n feestafel by die huis. Dís mos die lewe! Is dit regtig die lewe? Dink weer! Die psalmdigter ontken nie dat dit dalk ’n paar punte verdien nie, maar hy weet van nog beter. Die Here se bepalings (of wet of woord) is nog beter. Kom eers in ooreenstemming met God se wet en ontdek hoe die ander dinge ook in plek val. Laat jou deur sy woord leer en ervaar die beloning van God se genade.

Dit is nie welvaartsteologie nie. Dit vertel maar net hoe getrouheid aan God se woord in ’n mens se lewe dividende oplewer. Vir baie van God se kinders bestaan “goud en heuning” dalk net daarin om elke dag genoeg kos en ’n dak oor die kop te hê. Selfs dan (miskien veral dan) bied God se woorde ’n bevrediging, berusting en lewensvervulling wat alle verstand te bowe gaan.

Bron:
In die skadu van die Allerhoogste deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.