Gedagte vir die dag: Krag, geloof en liefde

strand_wolke_blomme_NathanSteyn.jpg

Foto: Nathan Steyn

Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. (Ef 3:16-17)

In Paulus se tweede gebed vir die Efesiërs vra hy dat God wat alle dinge onderhou deur die werking van sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid hulle sal toerus met alles wat hulle nodig het om tot eer van God te kan leef. Hy vra ook dat God hulle genoegsame krag daartoe sal gee. Elke Christen ervaar by tye ’n gebrek aan geloofskrag. Paulus bid dat die gemeente van Efese met innerlike krag toegerus sal word deur die werking van die Heilige Gees. Hy vra ook dat Christus deur die geloof in hulle harte sal woon sodat Hy onlosmaaklik deel van hulle lewe sal wees, en dan bid hy dat hulle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees.

Maak Paulus se gebed deel van jou eie lewe. In jou daaglikse lewe word jou geloof dikwels getoets. Eers wanneer Jesus se onmeetlike krag in jou lewe ontplooi word, sy geloof in jou lewe gesien kan word en sy onvoorwaardelike liefde die grondslag van jou lewe vorm, sal God jou werklik optimaal in sy koninkryk kan gebruik. Hierdie krag, geloof en liefde wat Paulus die Efesiërs toe bid, behoort ook in jou gemeente tot uiting te kom. As dit nog nie in jou gemeente gesien kan word nie, kan jy bid dat dit ’n werklikheid sal word.

Heilige Gees, gee asseblief vir my die krag om innerlik sterk te word sodat Jesus in my lewe teenwoordig kan wees en ek u liefde sal uitdra. Amen

Lees Efesiërs 3:14-17

Bron:
ʼn Loflied in die môre deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.