Gedagte vir die dag: Krag is ook in swakheid sigbaar

uitgestrekte_hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Ek sal baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk. (2 Korintiërs 12:9-10)

Bill George van Harvard het ’n keer navorsing gedoen oor die karaktereienskappe van suksesvolle leiers. Ná onderhoude met honderd vyf en twintig uitstaande leiers kon hy slegs een gemeenskaplike deler tussen hulle vind, naamlik hulle tekorte! Almal het erken hulle het iewers misluk weens opgeblase ego’s of oordeelsfoute. Hulle moes leer om eerlik te wees oor hulle swakhede.

Paulus moes dit ook doen. Hy skryf in 2 Korintiërs hy is soms oor raad verleë. Vervolging, spot, misverstande en swaarkry is ook sy voorland. Drie maal het Paulus gebid dat die Here hierdie doring van swakheid en swaarkry sal wegvat. Toe hoor hy God se genade is vir hom genoeg. God se krag werk juis deur swak menslike houers. Paulus moes op die harde manier leer hy is nie ’n eindverbruiker van die Here se krag nie. Hy is slegs ’n brose geleier daarvan.

Dit geld ook vir my en jou. Nogtans vloei God se groot krag graag deur swak geleiers soos ons.

Bron:
Op God se genadepad deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.