Gedagte vir die dag: Krag om te getuig

Hemelvaart_Opstanding_Stiltetyd.jpg

Foto: christianheadlines.com

Lees: Handelinge 1:1–8

Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld. (Handelinge 1:8)

Net voor sy hemelvaart verseker Jesus sy dissipels dat hulle krag sal ontvang wanneer die Heilige Gees uitgestort word, en dat hulle sy getuies dwarsoor die hele destydse wêreld sal wees. Die Griekse woord wat hier met ‘getuies’ vertaal word, word ook vir ’n agent gebruik. ’n Agent is iemand wat afgevaardig word om iets namens iemand anders te doen. ’n Eiendomsagtent verkoop ’n huis namens die eienaar. Ons behoort Jesus se agente in die wêreld te wees. En ons sal dit net kan regkry as die Heilige Gees ons die krag daartoe gee.

Reeds in Jesaja 61 word daar gesê dat die Gees van die Here oor die kneg van die Here gekom het; dat hy gesalf is om ’n blye boodskap te bring vir mense in nood; gestuur is om die moedeloses op te beur, en om vir gevangenes vrylating aan te kondig (vgl. Jesaja 61:1). In die Nuwe Testament word hierdie Skrifgedeelte op Jesus van toepassing gemaak. Jesus is inderdaad deur die Gees van God toegerus om ’n Blye Boodskap te bring aan mense in nood: die boodskap van verlossing wat Hy vir ons aan die kruis moontlik gemaak het.

Hierdie Jesus vra dat die dissipels – ook ek en jy – sy getuies sal wees deur die krag van die Heilige Gees. En Jesus gee nooit ’n opdrag sonder die nodige toerusting nie. Jy kan dus op sy krag en teenwoordigheid in jou lewe reken wanneer jy besig is om oor Hom te getuig.

Heilige Gees, ek loof U vir die krag wat ek elke keer wanneer ek van my geloof getuig, van U ontvang.

Bron:
Leef in Sy lig deur Nina Smit
Uitgewer: Struik
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johan du Toit ·

Kan iemand vir ons sê hoekom die media so stil is oor die feit dat ogod hulle saak teen christenskap in skole verloor het in Bloemfontein se Hoog Geregs Hof. dis moes goeie nuus op Hemelvaart dag!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.