Gedagte vir die dag: Die krag van lofprysing

Groep_vreugde_blydskap_cotrugli-org.jpg

Foto: cotrugli.org

Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing. Die ander gevangenes het na hulle geluister. Skielik kom daar ’n groot aardbewing sodat die fondamente van die tronk geskud het. Al die tronkdeure het oopgevlieg en al die gevangenes se kettings het losgekom! (Handelinge 16:25-26)

In jou donkerste uur lê alle krag in lofprysing. Ek kan elke ketting breek wat jou bind. Niks sal jou vinniger vrymaak as om My te loof nie, en die vertroue te verkondig wat jy in my teenwoordigheid, mag en onfeilbare liefde vir jou het.

Jou omstandighede is dalk onregverdig, jy voel dalk soos ’n gevangene van jou eie verkeerde keuses, maar Ek kan jou steeds vrymaak. Dit is jou onfeilbare vertroue in My wat meebring dat jy my Naam loof en My deur jou lewe verheerlik. Daar is groot krag in lofprysing. Niks beweeg die hemel meer as die uitroep van lofprysing midde-in omstandighede wat allesbehalwe prysenswaardig is nie. Jou lofprysing weerspieël jou geloof in my soewereiniteit en my onbeperkte liefde vir jou. Ek sal die pad gereedmaak en deur jou lofprysing voorsiening maak in jou lewe.

Soms sal jy nie lus voel om My te loof nie en jy sal in die versoeking kom om eerder kwaad en vol twyfel te wees. Tog moet jy kies om jou emosies opsy te skuif, weier om te leef op grond van wat jy sien en jou geloof toelaat om My te loof selfs wanneer jy nie wil nie. Loof My vir jou verlede, verheug jou in die huidige oomblik, en Ek sal jou toekoms vol vreugde maak. Kies geloof – verhef My bo jou omstandighede, want Ek is alle eer, heerlikheid, mag en lofprysing waardig.

Bron:
God fluister jou naam deur Cherie Hill
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.