Lees Psalm 1: 1-3
Dit gaan goed met die mens wat nie … met ligsinniges saamspan nie … (Psalm 1:1)
Daar is veral twee uitdrukkings wat lesers van hierdie eerste psalm goed onthou en dalk soms nog gebruik, al kom dit nie in die 1983-vertaling voor nie. “Welgeluksalig” is die een, die woord waarmee die 1933/53-vertaling se Psalm 1 begin. En dan, natuurlik, “die kring van die spotters“.
Welgeluksalig se betekenis is direk en eenvoudig, maklik verstaanbaar, selfs vir jong lesers (as hulle net ’n bietjie hieroor sal wil nadink!). Baie gelukkig, dit is wat dit beteken. Baie, baie gelukkig.
Hoe ook al. “Die kring van die spotters” trek steeds die meeste aandag en word soms nog gebruik, al is die aanwending vermoedelik effens bedenklik en buite die werklike bedoeling van die psalmskrywer. Want eintlik wil hy maar net se ’n mens moet jou geselskap goed kies. Jy word aan jou vriende en gespreksgenote geken. Daar is iets so os kollektiewe verantwoordelikheid, dit wil sê, jy kan jou nie sommerso losmaak van die een of ander onbesonnenheid wat iemand in jou gekose kring begaan het nie.
Natuurlik moet jy ook pasop vir hovaardigheid, hoogheiligheid. Sê nou maar jy was eens tuis in daardie ligsinnige spotterskring, en sê nou maar die Here ruk jou daar uit – sal jy jou eertydse maters afskryf? Hulle dalk ewe vroom meedeel dat jy voortaan maar vir hulle sal bid? Hopelik nie. Jy het immers nie eensklaps beter as hulle geword nie; die genade wat oor jou uitgestort is, was dalk net groter en meer. Wees baie dankbaar vir hierdie welgeluksaligheid. En baie, baie nederig.
Dankie dat U my verplant het, Here. Hoor nou my stille gebed vir my vriende.