Gedagte vir die dag: Die kruis as die afbetaling

sonsondergang_wolke_son_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Nadat Jesus die suur wyn gekry het, het Hy gesê: “Dit is volbring!”  Toe het Hy sy kop vooroor laat sak en die laaste asem uitgeblaas. (Johannes 19:30)

Een manier om die kruis te verstaan is om dit as die betaling van skuld te sien. Voordat Jesus sterf, roep Hy uit: “Dit is volbring.” Sy roeping en taak was afgehandel, beëindig. Die woord tetelestai beteken egter ook “betaal”. Trouens, daar word gesê dat dit die woord was wat in die antieke tyd onder ’n afbetaalde rekening geskryf is: “Ten volle betaal.”

In die Bybel – veral in die Nuwe Testament – word sonde dikwels met geldelike skuld vergelyk. Ons sonde teen God bou ’n skuld op wat ons nie kan betaal nie. Iemand moet ons genadig wees en ons skuld namens ons betaal – maar Iemand het! Aan die kruis het Jesus Christus ons skuld ten volle afgelos, die “skuldbrief” (of skuldbewys) teen ons skoongevee en is ons volkome vrygespreek. Nou het ek nie meer skuld teenoor God nie! Nou kan ek maar vrymoedig wees teenoor Hom! Onthou, die skuld wat betaal is, was my totale skuld: verlede, hede én toekoms.

Dankie, Here Jesus, dat U my skuld afgelos het. Dankie dat ek nou vrymoedig kan wees teenoor die Vader – vrymoedig en diep, diep dankbaar! Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.