Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het. (Romeine 5:12)
Die kruis van Christus is sentraal tot die tema van verlossing. Ons kan die kruis op verskeie maniere beskou, maar kom ons begin deur dit as ’n doodstraf te sien. Onthou, “die loon van die sonde is die dood”, volgens die Bybel. God sê reeds vir die eerste mense dat hulle “sekerlik” sal sterwe as hulle sy gebod oortree. As gevolg van hulle sonde – en natuurlik ons eie – is daar dus nou dood in die wêreld: verval, sterflikheid, fisieke dood. Daar is ook geestelike doodsheid – ’n “doodsbestaan”, afgesny van God – en uiteindelik die ewige dood.
As Christus dan die straf van die sonde op Hom wou neem, moes Hy sterf. Dis waartoe sonde lei! Nou is die straf van die dood egter opgehef: eerstens die ewige dood, maar uiteindelik ook die fisieke dood. Nou breek die lewe deur! Eerstens die geestelike lewe, maar uiteindelik ook die ewige lewe, waar daar geen dood of lyding of pyn of verval meer sal wees nie. Net lewe, lewe – oorvloedige lewe!
Dankie, Here Jesus, dat U vir mý sondes gesterf het. Dankie dat die oorvloedige lewe – die ewige lewe – reeds in my lewe deurgebreek het! Amen.
Here Jesus U is die oorwinnaar die ewige teenwoordige die EEN wat ons so lief het…tot die dood toe..my opgestane Heer..Amen