Gedagte vir die dag: Die kruis as ’n liefdesdaad

uitgestrekte-hand_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes. (1 Johannes 4:10)

Sommige mense is baie krities oor die gedagte van die kruis. Hulle sê dat ’n liefdevolle God nooit sy Seun doelbewus sou stuur om te sterf nie. Hulle sê dat die kruis onnodig was – God kon gewoon net verklaar het dat Hy alle sonde vergewe!

Dis waar dat die kruis wreed was, maar dit was wel nodig. Die Bybelse begrip van regverdigheid eis immers dat sonde gestraf word. Hoe sou dit wees as ’n regter in ons howe misdadigers eers skuldig bevind en dan bloot vrylaat? Nee, die kruis gaan oor geregtigheid. Dit vertel ons hoe ernstig die sonde is! Dit gaan egter ook oor meer. Onthou, aan die kruis gee God Homself, heeltemal gewillig. Daar was geen dwang nie, behalwe die dwang van die liefde. Bewys dit nie die grootste liefde as iemand sy lewe gee om ’n ander se lewe te red nie? Wek God se groot liefde nie ook by ons ’n wederliefde nie? Daarom, bo alles is die kruis ’n simbool van liefde!

Dankie, Here Jesus, dat U uit liefde na ons gekom het, dat U u lewe gegee het sodat ons lewens gespaar kan word. Die kruis is dáárvan die ewige bewys! Amen.

Bron: Hier is ek, Here deur Jimi le Roux
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.