Gedagte vir die dag: Kruisig hom!

kruis_dra_laste.jpg

Foto: ask.com

Pilatus het toe weer vir hulle gevra: “Maar as ek Barabbas vrylaat, wat moet ek dan doen met hierdie mens wat julle kwansuis die Koning van die Jode noem?” Hulle het teruggeskree: “Kruisig hom!” (Markus 15:12, 13)

Pilatus, ʼn heidense Romeinse regter, was in beheer van sake. Die res van die wêreld was niks meer as byspelers op die Romeinse teaterverhoog nie. Pilatus speel ʼn slim spel. Om as goewerneur te slaag en goewerneur te bly, moet hy die plaaslike bevolking reg hanteer. Hy moet in Rome se belang optree en die plaaslike leiers tevrede stel. Vir Pilatus, die aardse regter, gaan dit uitsluitlik om eiebelang. Teen dié agtergrond het hy die Jesussaak hanteer.

In alle billikheid moes Pilatus erken dat hy geen skuld in Jesus kon vind nie. Hoe kan hierdie sagte, byna willose gevangene tog vir enigiemand ʼn bedreiging wees? Maar hy was genoodsaak om na die mense te luister. Regverdigheid sou nie sy bas red nie. Toe vra hy vir die skare wat hy met Jesus moet doen. En soos een man skreeu hulle: Kruisig hom!

Die hele wêreld het teen Jesus gedraai. Laat Hom die dood van ʼn misdadiger sterf. Die Man wat duiwels uitdryf en siekes genees en storms stilmaak en honger skares voed, staan daar uitgelewer om gekruisig te word … ter wille van dié mense wat Hom na ʼn kruis stuur.

Bron:
By waters van rus deur Johan Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.