Gedagte vir die dag: Kry ’n goeie agenda in plek vir jou tong

man_sonsopkoms_dink_denker_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Die tong het mag oor dood en oor lewe. Hulle wat lief is om te praat, moet saamleef met die gevolge van hulle woorde. (Spreuke 18:21)

Jy moet nooit praat as jy kwaad is nie. Moenie dadelik reageer op ’n skerp e-pos, ’n goor SMS of ’n snydende opmerking nie. Spreuke 18 sê oor en oor skerp woorde is dodelik. Dit maak diep wonde. Selfs al is jy reg, is dit steeds nie nodig om jou punt met aggressie te stel of om ander met harde woorde in ’n hoek in te stamp of te verkleineer nie. Toegegee, dis maklik om oor hierdie dinge te praat, maar om dit te beoefen, is iets anders. Ons almal struikel gedurig oor ons woorde. Jakobus 2 sê tereg dat ons tong soos ’n klein vuurtjie is wat groot skade doen. Daarom doop ons ons tonge aanhoudend in God se deernis. Wanneer ons ander seermaak, behoort die eerste woord vanuit ons harte as volg te klink: “Askies!” Ons woorde moet medisyne wees, nooit wapens van massavernietiging nie.

As ons nie ’n goeie agenda vir ons tong in plek het nie, sal ander ons met hulle eie agendas besig hou. As ons nie weet watter woorde en gesprekke belangrik is nie, sal ander woorde vir ons ’n prioriteit word. Dan gaan ons later niks opbouends gesê kry nie.

Kom ons plaas God heel voor in die ry wat ons spreek taal betref. Nee, dis nie ’n cliché nie. Kom ons spreek alle mense met wie ons te doen kry met die nodige respek aan, soos wat God vra. Hulle sal dan spesiaal voel in ons geselskap. Ons hou ook nie meer boek van die kwaad wat ander ons aangedoen het nie. Anders gaan ons die verlede se bitterheid nogmaals woordeliks hersirkuleer. Ons praat die Here se taal van opbou en hoop. Hy is ons agenda, Hy is ons vreugde.

Bron:
Blydskap wat bly deur Stephan Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lena Jonk ·

Stem saam wat jy hier se Stephan, ons woorde kan soms diep wonde agterlaat. Die ou tong is tog so n groot sondaar, as ons net n briek vooraan kan sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.