Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en prop vol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee julle meet, sal ook vir julle gemeet word. (Luk 6:38)
Ek het al baie gehoor dat mense hierdie woorde van Jesus gebruik om te sê dat as jy geld gee, God vir jou twee keer meer sal teruggee. Dis egter nie wat Jesus hier sê nie. Eerstens gaan hierdie “teruggee” nie oor God nie. Dit gaan hier oor mense. Tweedens praat Jesus oor oordeel en vergifnis.
Hy sê: “Vriende, moenie met oordeel en bitterheid in julle harte rondloop nie. Vergewe. As julle heeldag oordeel en bitterheid uitdeel, sal julle twee keer soveel ontvang, maar as julle in vergifnis leef, sal julle van mense dieselfde ontvang – en nog meer! Vra jou af wat jy die graagste wil hê: kritiek en oordeel of vergifnis. Deel uit wat jy self wil ontvang.”
Die beginsel van “behandel ander mense soos jy behandel wil word”, staan vas. Dis ’n waardevolle les. Niemand hou van oordeel en kritiek nie, moet dit dus nie uitdeel nie.
Bron:
Jesus se woorde vir mans deur Riekert Botha
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy
Sal graag gedagte vir die dag wil ontvang as dit nie te veel kos nie asb