Gedagte vir die dag: Kuns en die hemel

Reenboog_natuur_uganda_Stiltetyd_Marco-Brits.jpeg

Foto: Apoka Lodge, Uganda (Marco Brits)

Lees: Lukas 23:43

Jesus se antwoord was: “Ek verseker jou, vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees.” (Lukas 23:43)

In ’n gedig uit die 14de eeu, “The Divine Comedy”, beskryf Dante sy reis deur die hel. Sandro Botticelli het hierdie gedig baie angswekkend voorgestel in ’n skildery. Kuns is nie altyd strelend nie. Kunstenaars se voorstellings van die hemel of hel is soms nogal ontstellend!

As ’n mens egter Lukas 23:43 lees, sien jy daar is geen rede om ontsteld te wees nie. Inteendeel, die teks maak ’n mens baie opgewonde. Jesus gee die versekering dat gelowiges op dieselfde dag waarop hulle sterf in die paradys sal wees; met ander woorde, in die hemel. Jy hoef nie te wag voordat jy die hemel ingaan nie. Nee, Hy sê jy sal vandag in die paradys wees.

Hierdie versekering wat Hy vir ons gee, wil my laat bokspring van vreugde. Ek wil dit uitjubel. Dien ons nie ’n wonderlike God nie! Hy is ongelooflik goed vir ons. Hierdie teks versterk my geloof en maak my werklik opgewonde. Dit bevestig vir my dat ons ’n lewende God dien. Die God van hemel en aarde, wat in sy Woord belowe dat ons die ewige lewe sal beërwe as ons sy Naam bely, bevestig dat ons saam met Hom sal wees die oomblik wanneer ons sterf.

Ons loop partykeer sulke ompaaie en draaitjies oor waarhede wat in die Bybel staan. Hierdie teks verseker ons dat ons gouer eerder as later by die Here sal wees. In plaas van die vrees wat Botticelli se vreesaanjaende voorstelling van Dante se gedig veroorsaak, kan ons ware vrede ervaar as ’n geliefde sterf. Hierdie teks maak ons gerus oor ons laaste oomblikke. En laat ons met vreugde uitsien na die oomblik wanneer ons die lewende God aan die ander kant ontmoet.

Here, dankie dat ek by U kan wees wanneer ek sterf. Amen.

Bron:
Met ‘n lied in die hart deur Marietjie Joubert
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Von ·

Dankie Here vir die versekering dat U kinders saam met U in die paradys sal wees. Amen

*Betsie* ·

Hoe wonderlik om te weet dat Hy alles van ons weet. En dan vir ons die versekering gee dat ons saam met Hom in die Paradys sal wees. Dankie Abba Vader. AMEN.

Adam ·

Korrek ons moet nie ompaaie en draaie loop oor wat in die Bybel staan. Kom ons maak erns met Lev 27 vers 28 en 29

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.