Gedagte vir die dag: Kyk, Ek staan by die deur en klop

 stiltetyd-deur-ou-muur-pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

“Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:20-21).

Almal wat Ek liefhet, bestraf en tugtig Ek. Wees dan ywerig en bekeer jou. (Openbaring 3:19).

Jesus  sê:  “My  genade  is  vir  jou  genoeg” (2  Korintiërs  12:9).  Die genade van God is al wat jy nodig het. Wanneer jy swak is, is jy sterk.

Jy sien, as jy sê: “Ek wil dit op my manier doen,” onttrek God Hom. As jy nie meer kan voortgaan nie, en jy sê: “Jesus, help my,” antwoord Hy: “Hier is Ek.” Ons is soms maar net soos klein kindertjies. Hulle wil dinge altyd op hulle manier doen;  dan  druk  hulle  jou  hande  weg.  Maar  wat  doen  hulle  sodra  daar moeilikheid is? Hulle roep na jou as ouer en dan kan jy help.

Het jy al ooit gesien hoe ’n lewensredder iemand red wat besig is om te verdrink?  Wanneer  die  baaier in die moeilikheid raak en om hulp roep, spring die lewens redder dadelik in die water om hom te red. Hulle sê mense wat besig is om te verdrink, kan gevaarlik wees, want  hulle raak desperaat en paniek bevange. Hulle kan onopsetlik die persoon wat hulle probeer help, ook laat verdrink. Somtyds moet  die lewensredder die drenkeling ’n uitklophou gee om hom veilig op die strand te kry. Eers wanneer die drenkeling geen krag meer oor het om te veg nie, kan hy gered word.

Ons almal dink somtyds ons is sterk, maar skielik raak ons desperaat, en begin spartel. Dan kan die Here niks vir ons doen nie; Hy staan bloot terug. As dit beskryf hoe jy tans reageer, hoor dan wat Hy vir jou sê: “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het” (Openbaring 3:20-21).

My Vader, dit is presies hoe ek tans reageer. Ek dink ek is sterk genoeg om op my eie reg te kom. Ek besef dat ek die lewe vir myself moeilik maak. Here, ek gee alles oor aan U. Ek dank U dat U by die deur van my lewe staan  –  ek maak oop en ek nooi U in. Ek vertrou U, Here, om oor te neem – ek onderwerp myself aan u wil.  Amen.

Bron: In stilwees en vertroue deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy/CUM

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Yvonne ·

Here dankie vir die uitgestrekte Hand van genade…ek neem dit Here in volle vertroue dat U die beste weet

Agter die skerms ·

Here baie dankie vir genade vir krag vir gesondheid vir U. Dankie dat U daar is vir ons mense. Ek buig en verklaar dat U my God is. Ek vertrou in U ten volle my God. Amen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.