Gedagte vir die dag:  Kyk mooi!

Boesmansriviermond_stilte_strand_stiltetyd.jpg

Foto: Annelize Brits

Lees Psalm 80:1-7, 17-19

Laat dit weer met ons goed gaan, o God, verskyn tog tot ons redding! (Psalm 80:4)

Dit is gelowiges van alle tye se sug: Kom tog hierheen, Here! Kom kyk hoe sleg dit gaan, kom kyk hoe sukkel ons om te oorleef!

Psalm 80 is soos so baie psalms as ’n lied geskryf, kompleet met die aanduiding van die wysie waarop dit gesing moet word (vgl. v. 1). Dit is ’n treurlied wat vertel van die donker wolk van Godverlatenheid wat soms oor gelowiges kom hang en wat dan verseg om te verdamp.

Dit is dán dat gebede uitroepe word en liedere uitgeskreeu word. Dat gesprekke met God redenasies word, vol retoriese vrae, vol kwalik bedekte verwyte. En dikwels vol woede.

Ons ken die gevoel wat onderliggend aan Psalm 80 is. Hoe dikwels het ons nie al só gesug nie. So gekla, gehuil. So uitgevaar teen ’n God wat ver bly as ons hom hiér wil hê, as ons Hom nóú wil hê.

Die opwindende nuus, hiér, nóú, is dat ons in die pylvak ver- keer van die seisoen wat op vele maniere uitwys: Hy is hier! Hy het gekom! Hy het tot ons redding verskyn!

Almal weet tog dat vraagtekens net op een manier uitroep- tekens word: Hulle moet reguit gebuig word. En daar is maar een manier waarop uitroeptekens verdwyn: Hulle moet uit die pad gestoot word.

Almal weet daar is Een wat sterk genoeg is om dit alles te doen: die Kind van Betlehem. En wanneer die vraagtekens en uitroep- tekens eers uit die weg geruim en al die lawaai stilgemaak is, kan ons God se fluistering hoor: Ek was nooit weg nie. Ek was nog altyd hier. Kyk mooi in daardie klein krippie, en jy sal My sien.

U hét tot ons redding verskyn, Here! Hou ons oë oop en hou die herinneringe aan hierdie blye dae lewend.

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.