Gedagte vir die dag: Kyk uit vir ander

seuntjie_pa_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.co.za

Julle moenie net elkeen na sy eie belange omsien nie, maar ook na mekaar se belange. (Filippense 2:4)

Jare gelede het God vir Kain gevra waar sy broer Abel was en Kain het geantwoord: “Ek weet nie! Ek is mos nie sy oppasser nie!” (Genesis 4:9). Die vraag wat ek vandag wil bespreek, is: Moet jy jou broer of suster oppas? En die antwoord is: Ja, jy moet.

Ons moet almal verantwoordelikheid neem. Die Here stuur dikwels mense oor ons pad en ons is geneig om hulle eenvoudig weer weg te stuur. Ons het nie die tyd, plek of kos om aan dié wat dit nodig het af te staan nie. Ons moet versigtig wees oor die manier waarop ons staan sodat ons nie val nie.

Eendag gaan ons voor die Here staan en Hy gaan sê: “Ek het twee engele na jou huis gestuur. Hulle was soos boemelaars aangetrek of het soos immorele vroue gelyk en jy het hulle weggejaag.” Hebreërs 13:2 herinner ons: “Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang!”

Ons moet baie versigtig wees hoe ons optree. Die vraag is: Pas ek my broer of suster op? As God iemand oor jou pad stuur, maak seker jy behandel daardie persoon op die regte manier, want dis slegs deur God se genade dat ek en jy staande bly.

Dis een ding om vir mense te sê om mekaar lief te hê, maar dis gans iets anders om die “onbeminlikes” lief te hê – die bedelaar op straat, die mishandelde kind, die afgeskeepte dier, die dronkaard. Dié wat na ons toe kom, het niks en niemand, en hulle het ons hulp nodig. Wees versigtig om hulle weg te wys, want jy wys dalk ’n engel weg.

Onthou wat moeder Teresa gesê het: “Christus bid in my, Christus praat in my … Christus kyk deur my oë, Christus praat deur my woorde, Christus werk met my hande. Christus loop met my voete, Christus het lief met my hart.”

Here Jesus, laat my u hande en voete op aarde wees, en liefde en ’n sagte woord aan almal bring wat dit nodig het. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Loretta ·

Dankie,dis tog waar ons kyk net na ons gesin en sien nie die behoefte van ons medemens nie. Prys die Here Almagtige Alwetende God.

Louise ·

Niks waarna ek meer streef as om in liefde te leef nie. Die woorde van die lied “Laat Heer U vrede deur my vloei” is heeldag op my hart. Mag ons U liefde leef Heer, elke dag, elke oomblik, elke mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.