Gedagte vir die dag:  Kyk voor jou!

 blouberg_strand_wolke_stilitetyd.jpg

Bloubergstrand (foto: Annelize Brits)

Lees Jesaja 43:16-21

Kyk, Ek gaan iets nuuts doen … julle kan dit al sien kom … (Jesaja 43:19)

In hul ballingskapjare was soveel van die ou Godsvolk se hoop vir die toekoms, ironies genoeg, in hul verlede geleë. Gereeld word hulle opgeroep om terug te kyk, om God se spore agter hulle raak te sien, om te kyk hoe en waarlangs Hy hulle gelei het.

Die troos hierin was dít: Só het Hy destyds gedoen, só het Hy ons voorouers versorg en uit benouende situasies gered. En nou volg die hoop wat hieruit ontspring: Só sal Hy dit weer doen. Oftewel: Hy hét reeds; Hy sal weer.

Kortom: Onthou – en vertrou.

Hier stel Jesaja die Here aan die woord en dié keer vra Hy ’n ander perspektief: “Maar moenie net aan die vroeëre dinge dink en by die verlede stilstaan nie” (v. 18). Kyk, daar wag iets nuuts op julle. Ek gaan iets heel anders doen. As julle mooi kyk, sal julle reeds die eerste tekens daarvan sien.

Eintlik behoort niks hiervan die ou volk te verras nie. Hul God was nog altyd die Skepper uit niks, die Herskepper uit chaos. Ook ons, veel latere aanbidders van hierdie God, ken Hom as die Nuwe Begin in ons lewe. Hy maak heel wat deur sonde gebreek is, Hy ruim agter ons op. Só loop sy spore, ook agter ons.

Wanneer Hy dus ’n nuwe perspektief van ons vra, kan ons gerus die ore spits en ons oë op skrefies trek. Kan ons mekaar opgewonde aanspoor om te help kyk: Wie sien dit eerste raak? Wie van ons wat so haarfyn van God se gisterse goedheid kan vertel, kan Hom in ons toekoms raaksien – aan’t beplan, aan’t werk?

Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry. Ek sien U elke dag voor my!

Bron:  Uit die Beek 2019 deur Barend Vos
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

zettie ·

Die Vader is altyd op Tyd nooit te laat nie. Vertrou Hom ten volle, dan ontmoet julle die God van Wonders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.