Laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here. (Ef 5:18-19)
Ek is lief vir die Here. Ek aanbid Hom in gees en in waarheid. Ek sak graag op my knieë neer, by die huis of by ’n erediens, lig my hande op en loof Hom omdat Hy my gered het. Ek loof Hom vir daardie dag in my lewe toe ek vir die laaste keer in die bodemlose put afgesak het. Soos Dawid kan ek getuig: Die Here het my uit daardie put gehaal. Hy het my op ’n vaste rots laat staan en vir my ’n tweede kans gegee. Hy het my met sy bloed gereinig. Hy het my met sy Gees gevul. Dit is hoekom ek Hom loof.
Wat van jou? Waar staan jy vandag? Is jy so vasgevang in godsdiens, so gebind deur die wet dat daar geen vreugde en vrede in jou lewe is nie? Voel jy vasgevang onder in die bodemlose put? Draai na die Here toe, my vriend. Hy wil vir jou sy Gees gee. Hy wil vir jou sy vrede en vreugde gee. Dan sal jy ook jou hande kan oplig en lofgesange tot eer van die Here kan sing.
Die Here Jesus wil vir jou vryheid gee – die vryheid om Hom lief te hê, om vir Hom te leef en op Hom te vertrou. Sy vryheid gee aan jou die krag om groot drome te droom en groot dinge vir Hom aan te pak. Dit is hoekom Hy jou met sy Heilige Gees gevul en geseën het.”
Here Jesus, dankie vir u vryheid in my lewe. Gebruik my deur die krag van u Heilige Gees om groot dinge vir U te doen. Amen
Amen