Gedagte vir die dag: Laat die onverklaarbare vry

Wolke_heuwel_ReintDykema.jpg

Foto: Reint Dykema

Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. (2 Petrus 3:9a)

Uit die aard van ons wese wil ons dinge kan verstaan en dit verklaar voordat ons vrede kry oor iets. Daarom is dit vir ons moeilik as ons God en sy manier van werk met tye nié verstaan nie. Dan sukkel ons om onvoorwaardelik te glo, wonder ons soms waar God dan nou is en kan ons selfs aan sy beloftes – aan Hóm – twyfel.

Dít kan ’n mens nogal moeg maak. Want nie alleen moet jy met jou “ongunstige” omstandighede vrede maak nie, jy sukkel dan ook om aan jou geloof vas te hou.

Die waarheid is dat ons nie veronderstel is om God te verklaar of heeltemal te verstaan nie. As dit immers waar was, was God nie God nie! Ons kan slegs aanvaar dat ons Vader in sy almag weet wat in belang van die koninkryk is en dat Hy áltyd sy beloftes van trou sal nakom. Selfs wanneer dit lyk asof dit nie so is nie, kan ons aanvaar dat God getrou is, dat Hy die groter prentjie – die hemelse heerlikheid – voor oë het en dat Hy ons, ook in ons nié-verstaan nie, nooit uit sy hand sal laat nie.

Liewe mens, moet dus nie jouself moeg maak met die dinge van God wat jy nie kan verklaar of nie verstaan nie. Laat God toe om God te wees. Hy wéét regtig die beste.

Vandag vind ek vrede in die seker wete: U weet!

Bron:
Jou voetpad na vrede deur Milanie Vosloo
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.