Gedagte vir die dag: Laat God toe dat dit gebeur, of laat Hy dit gebeur?

 Storm_see_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Hy bring wel hartseer, maar Hy het ook medelye omdat sy troue liefde so groot is. Hy geniet dit nie wanneer mense seerkry of hartseer is nie. Kan daar iets gebeur as die Here dit nie toelaat nie? Is dit nie die Allerhoogste wat een mens help en ’n ander vernietig nie? (Klaagliedere 3:32-33, 37-38)

Wanneer moeilike tye oor jou lewe stoomroller, sal fluister-debatte in jou woed: Het ’n liefdevolle God toegelaat dat dié dinge gebeur, of het ’n soewereine God dit só bepaal? Die antwoord is: Ja.

Dit is eintlik maar twee kante van dieselfde muntstuk. En God dobbel nie. Hy het nie daardie muntstuk opgeskiet, onverskillig oor alles in jou lewe, en maar net gekyk hoe dit land nie. Jy sal dalk eers diepe vrede aan hierdie kant van die ewigheid ervaar wanneer jy besef dat jy nié die perfekte paradoks van God se veelkantige karakter ten volle kan begryp nie, of selfs hoe sy karaktereienskappe saam met sy barmhartigheid, goedheid, volmaaktheid, krag en heiligheid kan bestaan nie. Maar dit is hoe dit is. En jou naam is in sy hand gegraveer.

Te midde van tragedie, is dit vir jou makliker om vrede te maak met God se soewereiniteit of God se liefde? Sal jy tevrede wees daarmee om ’n God te dien wat slegs deernisvol of slegs magtig is?

God van liefde, ek weet dat U al die atome van die lewe bymekaarhou, tot u eer. Party dae sien ek net pyn en seerkry wat glad nie sin maak nie. Help my om te vertrou dat u liefde my hierdeur dra. Amen

Bron:
Omvou deur genade deur Dalene Reyburn
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Roela ·

Dankie Jesus dat U my dra deur sulke tye. Ek besef dat ek niks kan doen sonder U nie.

Eugene ·

My seun is onlangs deur inbrekers oorval en doodgeskiet terwyl hy probeer vlug het. Waar was God in sy uur van nood? Het hy dan nie my kind se smeekgebede gehoor nie? Of het Hy maar net besluit om anderpad te kyk en die uitvaagsels hulle sin te gee? Of is daar maar net niemand daarbo wat luister nie? Ek probeer hard, maar kan nie aan ‘n vierde opsie dink nie.

Valerie ·

Eugene,
So jammer vir jou; ek is deur dieselfde twyfel en het daar deeurgekom deur ongoddelike bagasie weg te gooi.
Kom asb. weg van die kanker wat Calvinisme/Hervormd/Gereformeerd genoem word (jy weet, MacArthur, Piper, en daai klomp) en jy sal vry wees en jou gedagtes sal kalm word. Volgens die ketters van Calvinisme, ens., is die dood van selfs ‘n jong mens vir God se “eer.” Asook elke ramp ooit.
Genade, watse “God” is dit? Antwoord: dit is nie een nie.

Frans C ·

Valerie
Wat jy daar skryf is eenvoudig nie waar nie.As dit so was sou Jesus Christus nooit op aarde verskyn het nie.Al hierdie booshede en gruweldade,siektes en alle rampe wat ons tref, is simptome van ‘n gebroke wêreld waarin verhoudinge skeefloop, omdat die mens se verhouding met sy Skepper skeef geloop het.

Christus,het gekom om die verhouding te herstel en sodoende ook die verhouding tussen mens en mens. Maar mense verwerp God se bestaan en skroei so hul gewete toe e volg hulle eie wysheid (plan)en word instaat tot die aller afskuwelikste dade,wat reg teen God se wil (sy oorspronklike plan vir die mens op aarde)indruis.

Anoniem ·

Eugene my trane sal jou nie kan help nie. Jy sal verseker die antwoord kry in ons volgende lewe wat Vader vir jou sal beantwoord. Volhard in geloof en gebed. Sterkte.

anton ·

Slegte dinge wat met die mens gebeur kom nie van God nie veral as jy n kind van Hom is en Hom lief het want Hy is ons Vader.
Nee die slegte dinge kom van satan af!!! Hy sal altyd kinders van God aanval en probeer leed aan doen. Hy wil hê dat ons, ons geloof in God verloor en Hom blameer vir die hartseer en slegte dinge wat met ons gebeur.
Behou die geloof al is dit nie altyd maklike nie. Dit sal beslis die moeite werd wees!

Eugene ·

Anton, mens moet versigtig wees om alles wat boos is voor Satan se deur te lê. Is Satan dan nie een van God se skeppinge nie? Hoe verklaar mens dan die oënskynlike totale onvermoë van God om hierdie skepping van hom te beheer? Dit sal mos summier van die wêreld ‘n beter plek maak. Wat het geword van Jesus se onvoorwaardelike beloftes “Vra en jy sal ontvang,…”,”Nie ‘n haar op jou hoof sal tot niet gaan…”, ens? Soveel mense het vir ons gesê ons moet berusting vind in die wete dat ons seun nou in die veilige arms van Jesus is. Nou vra ek jou, waar was daardie veilige arms toe my kind dit die nodigste gehad het?

Frances Jooste ·

Ons het twee kinders begrawe. Ons het net die twee gehad. Motorongelukke negentien jaar uitmekaar. Waar was God? Daar waar Hy was toe Jesus vir ons sondes gekruisig is, toe Stefanus gestenig was. Hy was op die regte plek. Hierdie lewe eindig mos een of ander tyd, soms hartseer en soms so vreeslik tragies. Ek is onuitspreeklik jammer vir julle, Eugene. Laat die wat ons vooruitgegaan het, ons suigkrag wees. Ons gaan hulle weer sien, asook ons Enigste Heilige God. Wees so goed en lief moontlik vir die wat nog lewe.
F J

Maggie ·

Eugene,ek kan myself nie so vêr kry om te dink hoe ontsaglik seer jy het nie.Ek het ook ‘n seuntjie en weet dat dit sal voel of my wêreld vergaan as hy iets oorkom.Ek gaan wel ook deur ‘n lang stryd wat soms onhoudbaar voel.’n Vriendin het my aangeraai om die hele boek van Job te lees.Dit was vir my moeilik en ek het met tye my Bybel vir dae lank neergesit voor ek weer verder kon lees, maar ek het baie troos daar gevind. Dit was asof Job alles voel wat ek voel en dit het my gehelp. Ek dink ook om hierdie hele hoofstuk 3 van Kollosense te lees,sal goed wees.Seerkry vat tyd om te genees. Baie sterkte vir jou.

René ·

Eugene, jy het al my empatie, Ek skryf ‘n paar gedagtes neer wat hopelik sal help om perspektief te gee. God is in beheer. Hy bepaal alle dinge wat gebeur volgens sy volkome wysheid, sy ewige raadsplan en sy wil. Tog is God nie die outeur van sonde nie, Hy het geen deelname aan die mens se sonde nie en Hy keer ook nie die mens se vrye wil nie. Ons leef in ‘n gebroke wêreld en ook christene ly daaronder. Maar alhoewel in die wêreld, is ons nie van die wêreld nie. Ons is vreemdelinge en bywoners hier. Ons leef nie vir ons self nie en ons sterf nie vir ons self nie. 2000 jaar gelede het God se Seun in ‘n tuin by sy Vader gepleit om sy lewe te spaar, maar ingevolge sy ewige verlossingsplan kon Hy nie ingryp nie. Sy Seun moes sterf vir sondaars. Waarom jou seun moes sterf, weet ons nie. God was daar, maar Hy is nie aandadig aan dit wat gevalle mense besluit om te doen nie. Ons weet ook nie hoe hierdie gebeure by God se ewige raadsplan inskakel nie, maar in die geloof kan ons glo dat dit nie sonder ewige betekenis is nie. Ons bid vir jou sterkte en berusting toe. En dat moordenaars tot inkeer en nuwe lewe in Christus mag kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.