Gedagte vir die dag: Laat God toe om jou lief te hê

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Lees: Romeine 8:31-39

Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (Romeine 8:38-39)

Paulus verseker die gemeente van Rome dat niks hulle ooit van Christus se liefde vir hulle kan skei nie. In Romeine 8:35 lys hy traumatiese gebeure wat ons dalk aan God se liefde vir ons kan laat twyfel: lyding, benoudheid, vervolging, honger, naaktheid, gevaar en die swaard. In ons kernverse beklemtoon hy vir die tweede keer dat heeltemal niks ooit tussen ons en God se liefde vir ons kan inbeweeg nie, selfs al voel dit soms vir ons so.

Jerry Sittser, die Amerikaanse professor oor wie ons gister gesels het, vertel hy was so getraumatiseerd ná die ongeluk waarin hy soveel van sy hartsmense verloor het, dat hy dit net nie kon regkry om te bid nie – al wat hy kon doen, was om God toe te laat om hom lief te hê. Hy kon skaars glo dat God mense kan liefhê en steeds soveel pyn in hul lewens kan toelaat. Dit is juis deur hierdie ervaring dat hy ontdek het heeltemal niks kon hom van God se liefde skei nie, getuig Sittser, nie eers sy eie onvermoë om Hom lief te hê nie.

God se liefde vir jou bly konstant, selfs in daardie tye wanneer jy twyfel aan jou liefde vir Hom.

Hemelse Vader, ek wil U nou toelaat om my lief te hê, selfs al verhinder my omstandighede my om U lief te hê. Ek weet dat niks my van u liefde kan skei nie. Amen.

Bron:
Jy is myne deur Nina Smit
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.