Gedagte vir die dag: Laat iets van waarde na

vrou_stiltetyd_gebed_genade.jpg

Foto: crosswalk.com

Laat ons die goedheid van die Here ons God belewe: hou die werk van ons hande in stand, ja, die werk van ons hande, hou dit in stand. (Psalm 90:17)

So dikwels word ’n man gemeet aan die erfporsie wat hy vir sy vrou en kinders nalaat. Versekeringsmaatskappye wat lewensversekering verkoop teer op die sentiment. Wanneer die vader sterf, mag sy gesin nie sonder heenkome wees nie. Vandat hoogs gekwalifiseerde vroue in groot getalle tot die arbeidsmag toetree, word die bordjies verhang en is dit hulle wat voor­sorg moet tref vir dié wat agterbly ná hul dood. Maar wat help groot bedrae geld as jou naasbestaandes jou so gou as wat hulle die geld in hul bankrekening het, vergeet?

My pa het my gevra om Psalm 90 op sy begrafnis voor te lees. Ek het dit kon doen met die besef dat hy hiermee vir ons almal nog een les wou leer: Die lewe is te kort om dit sonder God te leef. My pa het nie vir sy kinders en kleinkinders geld nagelaat nie, maar ’n magdom van herinnerings aan ’n pa en oupa wat in elkeen van ons ewe veel belang gestel het.

Een van die mooiste grafskrifte wat ek nog gelees het is: ‘Hier lê die hande wat so hard vir ons gewerk het.’ Hande wat gewerk het en kinders wat onthou.

Die klein dingetjies wat jy vandag vir ander mense doen, word net soos die groot dinge onthou en waardeer. Klein, sentimentele geskenkies word gekoester en van geslag tot geslag aangegee. Jy hoef nie harte oor te plant of spoedrekords te verbeter nie. Wat help dit jou naam word in die geskiedenis­boeke opgeteken en niemand dink ooit met liefde aan jou terug nie?

Die werk wat God in stand sal hou, is werke van liefde.

Hemelvader, help my om onthou te word as iemand wat baie liefde uitgedeel het.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

ElgeraineR ·

Dis n pragtige stukkie en so waar! Dankie Here vir die baie liefde wat ons ontvang?

Lorraine. ·

Baie dankie – dit is net wat ek vandag nodig gehad het. Ek het lankal besef geld beteken niks nie. Dit is die liefde wat tel. Seen en vrede vir julle almal.

Josephine ·

Ek ken mense in hul 80’s en 90’s wat nog steeds gryp en versamel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.