Gedagte vir die dag: Laat jou lig skyn

 

 olielamp_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Julle moet so voorbeeldig lewe dat julle ’n helder lig sal laat uitstraal. Dan sal die mense dit sien en julle hemelse Vader daarvoor prys! (Matteus 5:16)

Toe ek jonk was, het ons nie elektrisiteit gehad nie; ons moes paraffien-lanterns gebruik. ’n Lang katoenpit het in die paraffien in die lamp gehang en dit geabsorbeer om die vlam brandend te hou. Jy moes eers die pit se punt afknip, dit met ’n vuurhoutjie aansteek en dan met ’n glasskerm toemaak. Ek was nogal heel behendig hiermee. Ek sou die lampe in ’n ry sit, die uitgebrande gedeeltes aan die bopunt van die pitte afknip sodat dit lekker helder kan brand en dit dan aansteek. Die glasskerm moes skoon wees; enige vuil kolle sou ’n invloed op die lig hê.

Hierdie lampe herinner my aan Jesus se vertelling dat ons ons lig moet laat skyn voor die mense. Ons moet aanhou knip aan ons pit – ons verhouding met God. Die Heilige Gees is ons paraffien; Hy is gedurig by ons en hou ons aan die gang. As die pit te lank of die glas te vuil is, sal ons lig nie helder skyn nie.

Dis hoe ons verhouding met God werk. Ons moet daaraan werk om dit sterk te hou en vertrou op die Heilige Gees om ons sterk te maak om God se werk te doen.

Liewe Jesus, U is die ware lig in my lewe. Daar is so baie seer, stukkende mense wat u liefde en waarheid nodig het. Ek vra dat U my sal gebruik om te help waar ek kan. Amen.

Bron: Vrede in sy teenwoordigheid deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.