Gedagte vir die dag: Laat jou verliese agter en beweeg aan

pad_son_stiltetyd.jpg

Foto: pixabay.com

Ek reken self nie dat ek al is wat ek moet wees nie, maar een ding is seker: ek vergeet dit wat agter my lê, en strek my uit na dit wat voorlê. (Filippense 3:13)

Ons maak almal foute, en sonder uitsondering raak ons almal wanhopig wanneer ons besef dat ons nie self dinge kan regstel nie. Ons verloor moed en wonder: “Wat help dit alles?” Ek wil jou aanspoor om eerder die ou gesegdes te onthou: “Gedane sake het geen keer nie,” en: “Wat verby is, is verby.” Of, soos Oswald Chambers geskryf het: “Moet nooit toelaat dat jou gevoel van mislukking jou nuwe optrede bederf nie.”

Wanhoop is ’n baie normale menslike ervaring. As ons die geleentheid misgeloop het om iets goed te doen, voel ons wanhopig oor die verlore geleentheid.

Ek het eenkeer ’n mielieoes geplant, maar die kalibrering van die planter verkeerd ingestel. Dit het veel minder plante as gewoonlik tot gevolg gehad. Ek onthou dat ek maand na maand wanhopig was oor die fout wat ek gemaak het. Ek het gedink dit kon my dalk my plaas kos. Een oggend het ek ervaar dat die Heilige Gees vir my sê: “Hou op om wanhopig te wees. Moenie na die spasies tussen die mielies kyk nie; begin om na die mieliekoppe te kyk.” Dit blyk toe dat die ekstra spasie tussen die plante die koppe toegelaat het om goed te ontwikkel, en ons is per gewig betaal, nie per volume nie.

Die duiwel wil hê ons moet moed verloor terwyl die Here wil hê ons moet vorentoe kyk. As ons ’n fout begaan het of nie ’n geleentheid benut het nie, moet ons dit agterlaat. Die Here sal nog geleenthede vir ons beskikbaar stel in die toekoms. Maak vrede met jou verliese en beweeg aan, want daar sal nog vele wonderlike geleenthede op jou wag. Kom ons raak nie wanhopig oor ’n fout wat ons begaan het nie, of dit tuis of by die werk was. Kom ons beweeg aan met Jesus se leiding.

Vader, mislukking en teleurstelling is iets wat ek moeilik verwerk. Spoor my asseblief aan om op te staan, weer te probeer en nie moed te verloor nie. Ek bid dit in Jesus se Naam. Amen.

Bron:
Genade in oorvloed deur Angus Buchan
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.