Gedagte vir die dag: Laat ons nie in versoeking kom nie

Stiltetyd-6.jpg

Foto verskaf aan Maroela Media

Moet my nie arm maak of ryk nie, gee my net die kos wat ek nodig het, sodat ek nie te veel het en U verloën en sê: ‘Wie is die Here?’ nie, en sodat ek nie te arm word en steel en my God se Naam oneer aandoen nie. (Spreuke 30:8–9)

Versoekings is oral, selfs hier waar jy nou sit en lees. Dis juis wanneer jy alleen is met jou gedagtes dat die Bose jou aanval. Soms kom hy selfs tussenbeide wanneer jy Bybel lees en bid, en trek jou aandag af met allerlei sorge en irritasies. Jonk of oud, arm of ryk – almal ken versoekings. Selfs Jesus is versoek; Hy weet wat dit behels. Daarom maak Hy dit deel van sy modelgebed.

Satan kon nog altyd sy slegte idees so meesterlik kamoefleer dat oningelig­tes dit as goed en reg vertolk het. Vandag raak dit al makliker om toe te gee aan sy leuens. Vandat die wêreldgrense deur die media en internet afgebreek is en soveel vreemde godsdienste en gebruike aan ons opgedring en goed ge­praat word, word ons meegesleur en kan ons later nie meer reg en verkeerd van mekaar onderskei nie. Die Bose buit dit natuurlik uit.

Ons het God nodig om ons weg te stuur van al die gevare. Hy sien in die toekoms en net Hy kan die gevolge van ons verkeerde keuses bereken. Hy laat ons ook nie sonder die nodige verwysings nie. Sy Woord is ons kompas en as ons ons daarby hou, sal ons nie verdwaal nie.

Jesus het die Satan op sy plek gesit omdat Hy die Woord geken het en hom die regte antwoorde kon gee. Met ‘want daar staan geskrywe’, het Hy die Bose keer op keer afgeweer (lees Matteus 4:1–10).

Here, ons pad is besaai met slagysters, almal so meesterlik gekamoefleer deur die Satan dat ons maklik daarin sal trap as U ons nie veilig verbylei nie. Bly by ons, Here, want ons kan nie goed sien nie.

Bron:
Liefde vir elke dag deur Helena Hugo
Uitgewer: Struik Christian Media

Boeke deur Helena Hugo is nou beskikbaar by CUM Boeke
Vir meer geestelike artikels besoek Joy! Digital 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

ElgeraineR ·

Here help my om nie vandag af te dwaal op vreemde paaie nie, maar om elke tree langs U te bly!

Theuns ·

Jesus, gee dat ek volgens U Woord sal handel en dat ek nie iets sal se aan enigiemand wat nie volgens U liefde en die Woord van God beveel word nie. Amen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.