Gedagte vir die dag: “Laat ons nie ophou nie”

Arms_uitgestrek_bid_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word. (Hebreërs 4:16)

Wanneer ons in die Ou Testament lees hoe die Here omvattende en gespesifiseerde opdragte aan Moses gee om die tabernakel te bou, met duidelike bepalings vir die plek van die volk en die rol van die hoëpriester, besef jy dat God planmatig te werk gaan. Dat Hy sekere patrone ingestel het, en dat daardie soort opdragte die ou Israeliete gehelp het om die Godheid beter te verstaan, én om sy heerlikheid te beleef.

Noudat ons, met Jesus wat die voorhangsel laat skeur het, tot in God se heiligdom mag ingaan, kan ons die Ou Testament gebruik om ons te help om die Godheid te verstaan en sy heerlikheid te beleef. Ons lees oor Moses en Josua en Dawid, en hoor dat dit ’n wonderlike ervaring is om in God se teenwoordigheid te mag kom. Dat om God van aangesig tot aangesig te ontmoet ’n lewensveranderende gebeurtenis is.

Ons lees ook in Hebreërs 4:16 dat ons wat in Jesus glo met vrymoedigheid God se asemrowende, transformerende teenwoordigheid mag binnegaan. Ons mag die deure van ’n geestelike tempel binnegaan, tot in die Allerheiligste waar God glorieryk teenwoordig is.

Dis ’n heilige gebeurtenis.

Maar dis ook alledaags. Dis iets wat ons gereeld en met vrymoedigheid kan doen. Want die pad daarheen is oop – dis deur ons Hoëpriester, Jesus Christus, vir ons oopgemaak.

Psalm 100 moedig ons op ’n praktiese wyse aan om God se teenwoordigheid binne te gaan. Dis immers ’n danklied wat Dawid geskryf het terwyl Hy God se tempel binnegegaan het.

Dié psalm leer ons voorts hoe om met die regte gesindheid God se Allerheiligste te betree. “Gaan sy poorte binne met dankliedere,” sing die digter (Ps 100:4). Met blydskap en ’n gejubel, en met erkentlikheid en dankbaarheid. Só gaan ons die poorte van God se tempel binne en smaak ons sy teenwoordigheid.

Maar laat ons tog nie op die drumpel bly staan nie! Laat ons vreugde en dankbaarheid ons tot in die Allerheiligste dra. Tot by die hart van ons Vader sodat ons sy asemrowende heerlikheid kan ervaar, sy herskeppende liefde kan smaak en sy genadige nabyheid kan beleef.

Here, dankie dat die voorhangsel geskeur is. Nou kan ons U van aangesig tot aangesig ontmoet.

Bron: 100 dae van dankbaarheid deur Francine Prins
Uitgewer: Lux Verbi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan ·

Dankie Here dat U in ons lewens is. Dankie vir al U genade. Amen!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.