Gedagte vir die dag: Laat u koninkryk kom

sonsopkoms_lewe-voluit_stiltetyd_pixabay.jpg

Foto: pixabay.com

Laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. (Matteus 6:10)

Die koninkryk van God verskil van enige koninkryk op aarde, want hier is God wat almagtig, getrou en alom teenwoordig is, en alle mense onvoorwaardelik liefhet (Matt. 5:45).

Ons dae word gevul deur mense en programme wat die een belangriker wil wees as die ander. Hierdie mense en programme word konings in ons lewe. Jou betrokkenheid by die program raak onmisbaar en jy is vasgevang in ’n koninkryk wat jou vasbind, verswelg en versmoor.

Wanneer ons egter hierdie gebed bid, is dit ’n versoek dat God as Koning oor elke aspek van die lewe sal regeer. Hy heers nie met mag en gesag nie, maar eerder met liefde. Deur God bo alles te stel, plaas dit ook alle ander aspekte en verhoudings in perspektief. Dit help om ’n mens se prioriteite reg te stel.

In die opvoeding van ons kind(-ers) tree die vaderfiguur op as “koning”, as hoof, van sy huisgesin. In hierdie rol kan ons ons gesin volgens God se prioriteite bestuur, leiding neem, en ’n voorbeeld stel deur ons gesin te omvou met liefde en regverdig te wees in ons dissipline.

Hierdie beginsel kring ook wyer uit na ons daaglikse werk en die gemeenskap. Dit gee uitvoering aan die beginsel: Laat u koninkryk kom. In ons gebed bid ons dat ander dele van ons land, kontinent en wêreld ook onder God se beheer sal kom. Ons bid vir ons land en regering, vir leiers op plaaslike, nasionale en internasionale vlak (1 Tim. 2:1-8).

Ons Vader wat in die hemel is, ek vra vandag dat u koninkryk kom oor my lewe, my verhouding met my gesin, my werkgewer en werknemers, my dorp of stad, die provinsie en die land waarin ek woon. Ek bid vir alle leiers wat op plaaslike, provinsiale en nasionale vlak regeer, dat hulle U ook as hulle Koning sal erken. Laat u koninkryk kom. Amen

Bron:
Manne van die Woord deur Jannie Pelser
Uitgewer: Christelike Uitgewersmaatskappy

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Johan du Preez ·

Jy mis die punt lees Dan2:44 en Dan7 en as jy nog nie verstaan nie kontak my en ek sal verduidelik. Mat24:14 kan ook help. Johan

Connie ·

Dankie vir so ‘n mooi verduideliking van die Onse Vader. Dit is baie belangrik om die gebed elke dag te bid. Soek eers die koninkryk van God en die res sal vir jou bygevoeg word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.